Marli van Wyk

Hoërskool Garsfontein

Tuisdorp

Pretoria

Skool

Hoërskool Garsfontein

Wie het jou matriekafskeidrok ontwerp / waar het jy dit gekoop?

Ek het self my rok ontwerp nadat ek lank gewik en weeg het oor die perfekte kleur en styl. Na ek verskeie rokke aangepas het, het ek uiteindelik my eie idee ontwikkel. Met die idee het ek na my ouma, Hettie van Wyk, gegaan. Sy is al vir jare ’n meester met 'n naald en garing. Sy het die struktuur van die rok met haar insig en oog vir detail gemaak, en daarna het ek self elke blommetjie, steentjie en pêrel met die hand opgewerk. Elke deel van my rok is ’n stukkie van my persoonlikheid: sprankelend, ietsie anders en kleurvol.

Wat was die inspirasie agter jou matriekafskeidrok?

Toe ek klein was, het my ma altyd gevra, “Wat is jou gunsteling kleur?” en sonder twyfel het ek altyd geantwoord, “Reënboog!” want hoe kies ’n mens net een kleur as elkeen op sy eie manier mooi is? Daardie kinderdroom het my nog altyd gevolg, om in elke deel van die lewe die mooi raak te sien. My rok, met sy diep vlootblou basis, kleurvolle blomme, goue steentjies en pêrels wat in die lig glinster, is ’n weerspieëling van daardie idee... skoonheid lê in verskeidenheid en dat elke kleur, nes seisoene in die lewe, sy plek het. Die blomme op my rok herhinner my ook dat ek met hulp van bo, in enige plek kan blom waar ek geplant word. Die Here weef 'n mooi storie saam, blommetjie vir blommetjie. Hy gee ook om oor die detail van ons lewens, nes die steentjies en pêrels op my rok.

Wat beteken jou matriekafskeidrok vir jou?

My matriekafskeidrok is vir my meer as net materiaal en mooi lyk: dis ’n simboliese afsluiting van ’n hoofstuk en ’n viering van wie ek geword het. Elke blom en steentjie vertel ’n storie van groei, vreugde en om jouself in volkleur te wees. Dit herinner my daaraan dat ek, nes die reënboog waarvan ek as kind gedroom het, uit baie kleure bestaan, elkeen gevorm deur mense oor my skoolloopbaan, geloof en dankbaarheid. Vir my is hierdie rok dus nie net vir een aand gemaak nie, maar vir ’n herinnering wat ek vir altyd dra: om altyd met kleur, lig en oortuiging deur die lewe te beweeg

Hoogtepunt van die matriekafskeid

Buiten vir die heerlike mini pavlova's wat bedien was, was my hoogtepunt definitief om tyd saam met my vriende te spandeer en almal se reaksies te sien van ons rokke. Boonop was die foto’s neem, koffie drink voor die tyd en die aand vol glimlagte en lekker musiek hoog in my boekies. Dit het soos ’n droom gevoel: vol kleur, goeie mense en bittersoet oomblikke.

Planne vir na matriek

Na matriek wil ek medies gaan studeer, die wêreld verken en mense se stories hoor. Vir my gaan die toekoms oor groei, diens en om met oop oë en ’n dankbare hart te leef, en daarvoor sien ek uit vir wat die volgende hoofstuk inhou.

Gunsteling woord in Afrikaans

fantasmagories

Datum van matriekafskeid

2025-10-04

Hou van wat jy sien?

Deel op Sosiale Media