Maia Scheepers

Durbanville Hoërskool

Ouderdom

18

Tuisdorp

Durbanville

Skool

Durbanville Hoërskool

Wie het jou matriekafskeidrok ontwerp / waar het jy dit gekoop?

Ek het my rok ontwerp en my ma, Leandra Scheepers, het dit self gemaak (sy is nie ‘n voltydse “rokmaker” nie - dit is maar net een van haar vele talente!).

Wat was die inspirasie agter jou matriekafskeidrok?

Ek het 'n groot liefde vir die Spaanse taal en kultuur. Ek wou graag hierdie liefde wys en met almal deel op my spesiale dag. My visie was 'n Flamenco rok met 'n "twist": iets wat die tradisionele styl verpersoonlik, maar wat ook my persoonlike styl vertoon. Die enkelmou is intensioneel - nie net stylgewys nie, maar om die merk op my arm te vertoon en deel te maak van my uitrusting. Ek het laas Desember die rooi blomhaarknip in Spanjé gekoop, en dit het die hoeksteen van die hele ontwerp gevorm. Ons moes toe hier vir materiaal soek wat perfek daarby pas. Die rooi, swart en wit kleure met groot kolle dui duidelik op 'n Spaanse Flamenco-styl en ek is verlief daarop!

Wat beteken jou matriekafskeidrok vir jou?

Sjoe, hierdie rok is vir my ongelooflik spesiaal op soveel vlakke. Eerstens, dit was vir my ‘n groot geskenk om so ‘n unieke, interessante, ingewikkelde, absoluut pragtige rok te kon dra wat my ma met die hand vir my gestik het. Daar is nie ‘n stukkie lap daarop waaraan sy nie gesny of gewerk het tot diep in die middernagtelike ure nie. Ek is ongelooflik trots op haar en dankbaar vir hierdie groot taak wat sy sonder skroom vir my aangepak het en vir haar asemrowende resultaat. Dan lê hierdie rok ook na aan my hart, omdat dit my regtig soos ‘n Spaanse prinses laat voel het. Van die blinkers op my skouer tot die wit kolle op die sleep, het dit my persoonlikheid visueel uitgebeeld en my van vooraf verlief gemaak op die Spaanse invloed. Dit maak my lus om net my kastanjette op te tel en te dans. Wanneer ek die rok gryp en swaai, laat dit my voel asof ek nie ‘n rok aanhet nie, maar eerder ‘n rooi, swart en wit “extension” van myself. Hierdie rok ís Maia Scheepers en ek is mal daaroor.

Hoogtepunt van die matriekafskeid

Buiten vir die ontwerp, maak van my rok en kreatiewe tyd saam met my ma, definitief die rooi tapyt! Ek het gevoel of ek gaan naar word net voor ons by die kar uitgeklim het, maar ek en my metgesel het onsself gate uit geniet soos hy my ‘n draai gegee en ons groot vir almal geglimlag het. Dit was ook so lekker om te sien hoe mooi al die mense met wie ek die afgelope vyf jaar spandeer het, gelyk het. Elke uitrusting was ‘n verrassing!

Planne vir na matriek

Ek gaan volgende jaar BA Taal en Kultuur aan die Universiteit van Stellenbosch studeer. Ek gaan, onder andere, Duits, Afrikaans & Nedelands, Frans en, natuurlik, Spaans neem. Moet my nog nie vra wat ek na my studies wil doen nie…ek weet net dat dit iets met tale en reis te doen gaan hê!

Gunsteling woord in Afrikaans

Flambojant

Datum van matriekafskeid

2025-10-02

Hou van wat jy sien?

Deel op Sosiale Media