Karla van der Schyf
Hoërskool Linden
Tuisdorp
Johannesburg
Skool
Hoërskool Linden
Wie het jou matriekafskeidrok ontwerp / waar het jy dit gekoop?
Ek droom al van graad 3 af van my "prinses oomblik" met die perfekte rok wat my eie sprokiesverhaal sou skryf. 'n Groot pienk "ballgown" was die plan van die begin af, maar dit moes steeds elegant en tog 'n bietjie uniek wees. Ek het verskeie kere my vriend, Pinterest, besoek vir idees van rokontwerpe en 'n verskeidenheid stukkies inspirasie versamel. Op die ou end wou ek net ietsie van als hê: 'n oop rug, ietsie asimmetries en 'n bietjie glitter vir die aand. Rihette, van 39 Dresses, die beste rokontwerper ooit, het al my inspirasies saamgevat en dit in my droomrok omskep. Sy het my gedagtes oor wat ek wou hê amper beter verstaan as wat ek self het en my sprokiesoomblik laat waar word. Ek kon nie vir 'n meer talentvolle ontwerper gevra het nie.
Wat was die inspirasie agter jou matriekafskeidrok?
Die inspirasie agter my matriekafskeidrok het by nege-jarige Karla se droom begin. Die klein dogtertjie was vas oortuig dat sy eendag 'n prinses sou wees, al was dit net vir een dag. Ek wou nie wag tot my troudag om daardie oomblik uit te leef nie, so my matriekafskeid was die ideale geleentheid. My rok moes eenvoudig net groot en PIENK en vol glitter wees. Pienk is vir my 'n kleur wat vreugde, selfvertroue en vroulikheid vertoon. Die rok moes my kindwees vasvang, maar ook my ontwikkeling tot 'n jong dame verteenwoordig. Die dogtertjie in my het groot geword, maar haar droom het voortgeleef in 'n elegante rok wat haar menswees weerspieël.
Wat beteken jou matriekafskeidrok vir jou?
My matriekafskeidrok beteken vir my baie meer as net 'n mooi aandrok. Dit is 'n weerspieëling van my kinderlike drome en 'n oorgang na die jong dame wie ek besig is om te word. Die rok gee vir my die selfvertroue om te glo dat ek enige droom kan najaag in die toekoms. Verskeie mense het my "Barbie" genoem by die matriekafskeid en haar woorde sluit eintlik perfek by die betekenis van my rok aan``: "Think pink, dream big."
Hoogtepunt van die matriekafskeid
My hoogtepunt van die matriekafskeid was definitief die lekker dans saam met my vriende en om Justin Vega as ons DJ te hê. Dit was 'n groot verrassing! Ek was heel eerste op die dansvloer (daar is `'n video van my wat met baie entoesiasme hardloop om te gaan dans). Hy is super cool en maak die gehoor deel van sy optredes.
Planne vir na matriek
Ek gaan na die Universiteit van Stellenbosch om Viticulture and Oenology (Wingerd- en Wynkunde) te studeer. Ek sien baie uit om hierdie nuwe hoofstuk van my lewe te begin.
Gunsteling woord in Afrikaans
koekeloer
Datum van matriekafskeid
2025-10-02