Doline Havinga

Parel Vallei HS

Kort verduideliking oor jou rok of ontwerpkeuse

My rok is 'n kombinasie van blink eietyds en 'n titseltjie klassieke sjarme. Dit is 'n twee-stuk, 'n middernagblou korset met 'n romp wat van onder uitswaai in dieselfde kleur. Die korset het slegs een mou, wat bestaan uit net, kraletjies en borduurwerk, wat van die skouer na die res van die korset uitspat in in 'n patroon van krale en kant. Die rug word toegeryg met lint in die tradisionele korset-styl, en die romp het 'n spleet vir die regterbeen, 'n poging om tog effens modern te bly. Die korset se rand is ook omsoom met omtrent 'n duisend van dieselfde kraletjies, en laat mens voel asof jy in die aandlig sal skitter.

Skool se matriekafskeid bygewoon?

Parel Vallei HS

Wat was jou inspirasie vir jou matriekafskeidrok?

Eenmiljoen foto's van Pinterest, my eie onsekerheid en die geduld van die wyse Tannie Lizel-Mari van Straaten (Lizel-Mari Couture). My "Droom-rok" is iets wat ek altyd oor gewonder het, maar nooit regtig 'n volle idee van gehad het nie. Ek was oorweldig deur die verskeidenheid kleure en materiale en snitte en borduurwerk, en dit is toe dat ek na iemand gegaan het wat my onsekerheid in kuns verander het. Sy het klein deeltjies van rokke waarvan ek gehou het, gebruik om my rok soos 'n legkaart aanmekaar te sit. 'n Korset, een mou, 'n spleet? "Ons sit dit vir jou in, liefie." Die patrone op die korset is haar eie stukkie lewe wat sy in die rok ingeblaas het, en toe ek dit die laaste keer aanpas voor die afskeid, was my vreugde onbeskryflik, want dit is perfek. Blink, modern maar tog klassiek. 'n Weerspieeling van my eie persoonlikheid, omgesit in materiaal.

Wat was jou gunsteling deel van jou matriekafskeidrok?

Daar is nie een spesifieke aspek wat my gunsteling is nie, maar eerder die idee dat elke liewe afmeting, stekie en kraletjie wat aangewerk is, vir my gemaak is. Dit is gemaak om my lyf en wie ek is, perfek te pas, en dit is op die ou end wat enige meisie soos 'n prinses sal laat voel, om gemaklik te kan wees met wat sy aanhet, en te voel soos die aand se eie skitterende ster.

Datum van matriekafskeid?

2023-09-26

Hou van wat jy sien?

Deel op Sosiale Media