Carissa Henning

Hoërskool PJ Olivier

Kort verduideliking oor jou rok of ontwerpkeuse

My droom was om 'n rok te skep wat nie net mooi sou wees nie, maar wat ook 'n diepere betekenis sou hê. Ek het in Gr.10 'n rekenaar-gegenereerde foto gesien van 'n rok met skoenlappervlerk-patrone as basis en dit was my droom om iets soos daardie rok te dra by my matriekafskeid. Die plan was van die begin af dat ek en my ma die rok self sou maak. Die rok sou eers van sy gemaak geword het, maar ons kon nie die regte kleure kry nie. Die rok is toe van goedkoop kantgordyn gemaak , wat ek self geverf het om die gewensde effek te skep.

Skool se matriekafskeid bygewoon?

Ja, by Hoërskool PJ Olivier

Wat was jou inspirasie vir jou matriekafskeidrok?

My hoofinspirasie was 'n prent van 'n fantasie rok met skoenlappervlerk patrone. Ek wou graag verskeie aspekte van my lewe in die rok uitbeeld en die oorspronklike foto het my geïnspireer om die simboliek verder te ontwikkel. Die rooi stel bloed voor, wat dui op pyn, maar ook op bedekking van wonde (rowe) en later genesing. Oranje stel die son voor, wat elke oggend weer skyn, maak nie saak hoe moeilik die vorige dag was nie. Die blou stel kuns voor, wat nie net my gunsteling vak op skool is nie, maar wat ook my ontvlugting is wanneer die lewe te moeilik raak. Die groen stel die natuur voor, waarvoor ek baie lief is. Enige-iets wat lewe, of dit 'n plant, spinnekop of perd is, fassineer my in hoe wonderlik dit geskep is. Die wit stel lig voor, my ander gunsteling stokperdjie: fotografie. Net soos die kolletjies oral op die rok, is ek altyd op die uitkyk vir 'n goeie foto, en is ek nooit sonder my kamera nie. Pers stel lewenslus voor, om altyd die beste te maak van 'n situasie. Die swart en donkerblou deel, wat onverfynd is en net rofweg afgesny is, is in herinnering van vriede wie se lewens deur depressie aangeraak is. Mense wie se lewens deur diep waters gegaan het. Maar ook mense wie se storie te vroeg geëindig het, en wat 'n leemte gelaat het, net soos die kortgeknipte pante op die rok. Die skoenlapper stel voor hoe ek nou binnekort 'n nuwe lewe gaan begin na skool, maar dit sinspeel ook op die moeilike tye wat ek hierdie jaar beleef het, en oorkom het. Die vlerke stel letterlik voor hoe ek volgende jaar my vlerke gaan sprei om my drome te bereik.

Wat was jou gunsteling deel van jou matriekafskeidrok?

Alles! Elke deel, kleurvol en donker, ragfyn en grof, het perfek saam gepas om my droomrok te word. Ek het gevoel soos 'n woudfeëtjie, kompleet asof ek deel sou wees van die woudvolk in Dalene Matthee se "Towerbos". Die lekkerste was egter dat ek en my ma ure lank saam aan die rok gewerk het. Dit was ons albei se ontvlugting van die wrede realiteit van eksamens en stres.

Datum van matriekafskeid?

2023-09-29

Hou van wat jy sien?

Deel op Sosiale Media