Toe ek die foto van die rok op Pinterest sien, het ek onmiddellik geweet dat dit die EEN is.
Die delikate, handgeborduurde blomblare was asemrowend, maar om dit met die hand te borduur sou duisende ure (en rande!) se werk neem.
My ouma, Ment, voorheen 'n dosent in kleding aan die Noord-Wes Universiteit, het voorgestel dat ons ons eie weergawe ontwerp. Ons het pragtige kraletjie-geborduurde materiaal by die Oriental Plaza in Johannesburg gaan koop. Ek het die ontwerp geskets, en sy het elke blomblaar sorgvuldig uitgesny en aangewerk.
Wat was jou gunsteling deel van jou matriekafskeidrok?
Om te sien hoe my ouma die materiaal in die rok van my drome omskep, was een van die kosbaarste ervarings van my lewe. Met elke uur wat sy besig was, het sy haar liefde, omgee en kreatiwiteit in my matriekafskeidsrok ingewerk. Die eindresultaat was mooier as enigiets wat ek kon voorstel, en nóg meer spesiaal omdat ons dit saam gemaak het.