Mianette Theron
Hoërskool Porterville
Tuisdorp
Porterville
Skool
Hoërskool Porterville
Wie het jou matriekafskeidrok ontwerp / waar het jy dit gekoop?
My rok is ontwerp deur Tannie Chantelle Mitchley van Tikitai Couture, en dit was die mees ongelooflike ervaring ooit. Sy stel haarself volledig op jou in, luister na jou gedagtes en drome, en help om elke prentjie in jou kop ’n werklikheid te maak. Wat ek veral waardeer het, is haar vrymoedigheid om eerlik te wys wanneer iets dalk nie prakties kan werk nie. Sy is ’n uitmuntende mens om mee saam te werk—talentvol, opreg en heeltemal amazing
Wat was die inspirasie agter jou matriekafskeidrok?
Van kleins af was my droom om ’n poofy Barbie-rok te dra—vol volume en sprokiesagtige flair. Maar mens raak groot en met tyd het my styl ontwikkel na iets meer tydlose en elegant nes Audrey Hepburn, klassiek en verfynd. Tog wou ek altyd ’n klein ietsie anders byvoeg wat my uniek maak. Daarom het ek die rok gekombineer met cowboy boots—’n speelse en onverwags stylvolle detail wat my persoonlikheid weerspieël.
Wat beteken jou matriekafskeidrok vir jou?
Die rok was vir my meer as net ’n matriekafskeidrok —dit was ’n droom wat waar geword het. Aan die begin het ek gedink ons sou net ’n rok huur, en ek het gewonder hoe ek ooit al die klein besonderhede wat ek begeer het, sou kon insluit. Toe verras Mamma my: sy het ’n paar rand weggesit sodat ons ’n rok kon laat maak, solank dit binne ons begroting bly. Dit was die eerste oomblik waar ek besef het hoe diep sy my droom saam met my dra.
Met haar liefde en kreatiwiteit het sy selfs gekonkel dat ’n baie spesiale boodskap van my Ouma Marie binne die rok ingewerk is—’n geheime fluistering by aanpas sessies en telefoon gesprekke wat ek altyd as herinnering saam met my sal dra. Nog ’n droom was die cowboy boots, en toe Oom Jaco en Tannie Crystal in Amerika daarvan hoor, het hulle saam met Mamma stil-stil gereël dat die boots Suid-Afrika toe kom. Daardie boots het vir my gewys dat selfs die kleinste drome kan waar word wanneer mense wat jou lief het en in jou glo saamspan.
Alles het net so mooi in plek geval. Van die ontwerp van die rok, tot Tannie Nelmarie by Spa Marine wat my grimering gedoen het, en Nicole by Texture Hair Design wat my hare gestileer het—elkeen het met hul talent en liefde bygedra. Op die dag het ek nie net soos ’n prinses gelyk nie, ek het soos een gevoel. Dit was ’n oomblik van pure dankbaarheid, vreugde en die besef dat ek omring is deur mense wat my droom hul eie gemaak het
Hoogtepunt van die matriekafskeid
Ons klas is ’n bont mengsel van persoonlikhede, maar by die matriekafskeid het dit ’n aand geword wat ons nooit sal vergeet nie. Dit was ons kans om dankbaar te wees dat ons dit so ver gemaak het… en om ons hare los te maak voordat die groot NSS-rollercoaster ons op ’n laaste rit vat. En glo my, daardie rit het nie ’n ‘fasten your seatbelt’-knoppie gehad nie!
My hoogtepunt van die aand? Ek het ’n amazing date gehad. Nico is nie net ’n gentleman nie, hy’s ook ’n dansmasjien! Ek sweer, ek het nog nooit iemand gesien wat so gemaklik kan draai en swaai nie. Ek het gevoel soos ’n prinses op die dansvloer—met ’n ongelooflike pel, wat my laat lyk het of ek ’n Dancing with the Stars oudisie doen
Planne vir na matriek
Ek het APD, wat op skool sy uitdagings ingehou het. Dit het egter die saadjie geplant dat ek ná skool graag kinders wil help wat met dieselfde uitdaging leef. Omdat dit nie altyd reg gediagnoseer word nie, voel ek dit is belangrik om ’n verskil te maak.
Op die oomblik het ek aansoek gedoen om Spraakterapie te studeer as my eerste keuse. Ek het egter ook aansoek gedoen vir IT, want indien ek nie in die een rigting aanvaar word nie, het ek steeds my tweede opsie. Op daardie manier kan ek programme ontwikkel wat kinders met APD kan ondersteun. My droom bly dus dieselfde: om ander te help om hul volle potensiaal te bereik
Gunsteling woord in Afrikaans
Deursettingsvermoë - Die vermoë om jou doel te bereik al vat dit lank
Datum van matriekafskeid
2025-10-01