Johanika Kloppers
Duo Edu
Tuisdorp
Pretoria
Skool
Duo Edu
Wie het jou matriekafskeidrok ontwerp / waar het jy dit gekoop?
My rok is deur Karen Couturier gemaak. Ek het vir haar my idee gegee en sy het my droom rok vir my gemaak.
Wat was die inspirasie agter jou matriekafskeidrok?
As kind het ek altyd saam met my sussies prinsessies gespeel – ons het rokke aangepas, krone gemaak en ure lank gedroom. My jonger sussie, Marli, het altyd daarvan gehou om rokke te teken, en dis vir my ongelooflik spesiaal dat my matriekrok uit een van háár ontwerpe gebore is.
My oumie het altyd gesê ons is Jesus se pêrels, en dit het my geïnspireer om pêrels in my rok en skoene in te werk – dit voel vir my soos ’n stukkie van haar saam met my op die aand.
Ek het besluit om nie hakke te dra nie, want al bly ek in die stad, is my hart nog altyd op die plaas!
Wat beteken jou matriekafskeidrok vir jou?
Hierdie rok is vir my baie meer as net materiaal en pêrels – dit is ’n stukkie van my kinderdae, my familie en my hart. Toe ek dit aantrek, het ek weer gevoel soos daardie klein dogtertjie wat saam met my sussies prinsessies gespeel het. Ek het my ouma, my sussies en almal wat my liefhet, in my hart saam met my gedra. Dit was ’n aand vol vreugde en dankbaarheid, en ek weet ek sal daardie gevoel vir altyd onthou. My rok is vir my ’n herinnering aan liefde, geloof en hoe mooi dit is om jouself te wees.
Hoogtepunt van die matriekafskeid
My hoogtepunt? Definitief my aankoms! My twee swaers, wat ek baie bewonder, het besluit om soos my eie “bodyguards” aan te trek — donker sonbrille en al! Hulle het saam met my agter op die Land Cruiser ingery, en ons het van die begin af net gelag. Die musiek het gespeel, mense het gewaai en gejuig, en ek het gevoel of ek in my eie klein fliek is! Dit was só spesiaal om daardie oomblik met hulle te deel – vol liefde, pret en opgewondenheid. Dis beslis iets wat ek vir altyd sal onthou.
Planne vir na matriek
My plan na matriek is om 'n oorbruggingsjaar te doen – nie om stil te sit nie, maar om doelbewus te groei. Ek wil reis, nuwe mense ontmoet en leer hoe ander leef en dink. Ek glo dat elke ervaring my iets oor myself gaan leer. Ek wil ook tyd spandeer aan vrywilligerswerk, want ek voel dit is belangrik om iets mooi terug te gee aan die wêreld. Hierdie jaar sal vir my ’n kans wees om meer volwasse, onafhanklik en dankbaar te word – Ek sien dit as ’n jaar vol groei, avontuur en nuwe geleenthede wat my sal help voorberei vir my toekoms.
Gunsteling woord in Afrikaans
Grondboontjiebotter
Datum van matriekafskeid
2025-10-02