Sebelle Serfontein
Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria
Tuisdorp
Bronkhorstspruit
Skool
Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria
Wie het jou matriekafskeidrok ontwerp / waar het jy dit gekoop?
Hierdie is ‘n kort vragie met ‘n minder kort antwoord. My wens was eintlik dat my ouma my rok sou maak want sy het my ma se matriekafskeidrok en trourok gemaak. Ek het geen benul gehad van wat ek wou hê nie en het al van einde 2024 baie rokke aangepas in die hoop dat iets my verbeelding sal aangryp. My soeke was vir ‘n styl wat my persoonlikheid sal reflekteer en by my pas. Nie te oordadig of te eenvoudig nie. Dit was moeilik! Sommer in die eerste week wat die skool begin het hierdie jaar het ek ‘n rok by House of Superior Clothing in Brooklyn, Pretoria aangepas en was eensklaps verlief op die rok maar ek was bang om oorhastig ‘n belsuit te neem. Nadat my ma my die middag by die koshuis afgelaai het ek haar dadelik gebel en gesê dat daai MY rok is en as dit kan ons die rok dadelik moet koop. So het ek al op 17 Januarie 2025 my rok by House of Superior Clothing gekoop.
Wat was die inspirasie agter jou matriekafskeidrok?
My grootste inspirasie was dat my rok eg aan my moes wees. Ek het snaaks genoeg meeste van my inspirasie gevind in die uiteenlopende style en rokke wat ek oorweeg het of aangepas het en dan dadelik tot die besef gekom het dat die rok nie vir my is nie. So het ek met ń proses van eliminasie bepaal watter rokke my te vaal laat lyk en dié wat van my ‘n spektakel gaan maak. Ek het geglo, maar ook soms bietjie getwyfel, dat die regte styl of rok oor my pad sal kom en dat wanneer dit gebeur daar geen twyfel by my sal wees nie. My styl inspirasie was uniekheid wat net genoeg gedemp word om gepas te wees vir my matriekafskeid en ‘n klassiekheid wat tydloos sal wees maar wat steeds ‘n “Gen Z” jong dame kan laat skyn. Toe ek my rok sien en aanpas het ek geweet dat dit die presiese ontmoeting is waar al my drade van inspirasie perfek in mekaar vleg. My rok het my gekies! Van daardie dag af het my rok my inspirasie geword om nie net bykomstighede te kry wat pas nie maar baie meer om my rok se prag na regte te bring.
Wat beteken jou matriekafskeidrok vir jou?
Ons meisies stap ‘n lang en moeilike pad deur ons skooljare met ons voorkoms en selfbeeld. Vanwaar meeste van ons sonder voortande haasbek graad 1 in is, deur soms ongemaklike stadiums van groei en ontwikkeling in ons eie kritiese oë tot waar ons in graad 12 die jong dames word as die produk wat deur ons skooljare gevorm is. Ek sal nooit vergeet hoe Mej Marna Jordaan, my graad 8 skoolhoof, met my aankoms in die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria gesê het dat ons as dogtertjies daar instap maar as waardige jong dames daar sal uitstap nie. My matriekafskeid het presies dit vir my beteken. ‘n Viering van ‘n tydgleuf in my lewe waar my skooljare tot ‘n einde kom en ‘n welverdiende geleentheid vir die matrieks om ten toon te stel die skone dames en welvallige jong manne wat dit opgelewer het. My rok was vir my die perfekte mantel waarmee ek beklee is om my te laat lyk en voel dat reis deur skool nou volbring is en my rok die prentjie is wat dit vir die res van my lewe by my sal dra.
Hoogtepunt van die matriekafskeid
My matriekafskeid was een lang hoogtepunt waarin ek my uiterste probeer het om elke oomblik te geniet. Wat vir my uitgestaan het was om met my skoolmaats ons jare saam te vier en om mekaar se besonderse styl van hoe elkeen hulle skooljare afsluit te waardeer en te ondersteun. Ons skool en martiekgroep het so baie moeite gedoen om die afskeid vir ons onvergeetlik te maak en ek sal hierdie groot partytjie nooit vergeet nie.
Planne vir na matriek
Ek glo na skool verdien ek om vir ń jaar (of twee) vakansie te hou maar so gelukkig is ek nie. Ek beplan om met my LLB studies te begin volgende jaar en ń vol studentelewe te ervaar.
Gunsteling woord in Afrikaans
Karnallie :-)
Datum van matriekafskeid
2025-10-07