Zoey-Leigh Crouse
Hoërskool Ferdinand Postma
Tuisdorp
Potchefstroom
Skool
Hoërskool Ferdinand Postma
Wie het jou matriekafskeidrok ontwerp / waar het jy dit gekoop?
Anel Botha
Wat was die inspirasie agter jou matriekafskeidrok?
Lank, lank gelede - toe ek nog 'n klein dogtertjie was - het ek gehoor van iets genaamd 'n"Matriekafskeid". Net daar tussen my speelgoed en al my poppe het my drome gebars soos vuurwerk op die aand voor Kersfees en het ek besef, eendag gaan ek vir een hele nag 'n regte-egte prinses kan wees - my eie Disney -prinses in my eie sprokie.
In my 5-jarige kinderhartjie was drome van rokke wat spin wanneer ek draai, die frilletjies en rondings wat skyn in die maanlig, my hare wat bons van krulle wanneer ek loop en die ligte-helder-kleure van my prinses-rok wat giggel soos ek teen die trappe af trippel.
Ek het my prinsesrok oor jare in my hart geskets, stukkie-vir-stukkie - So baie dat dit deel van my geword het.
Toe die dag aanbreek om my rok te laat maak, het ek vir Anel gesê:" Ek wil die dogtertjie wat ek was, en die jong dame wat ek word, aantrek." Ek onthou nog hoe sy gesê het:" Sjoe, dis baie vir een rok" - op daardie oomblik het ek dit besef en saam gestem, maar tog styf geklou aan my prinses-prentjie. Met Anel en haar span se handewerk en met net-net genoeg pixi-dust, het hulle die magic gemaak!
Die aand toe my matriekafskeid aanbreek, het ek in die spieël gekyk - en daar het sy gestaan: die dogtertjie wat ek was, en die jong dame wat ek geword het, leef in een oomblik in een rok.
Vir een hele nag was ek genuine 'n prinses!
Wat beteken jou matriekafskeidrok vir jou?
Dat om vas te hou aan my drome - maak nie saak hoe groot (of hoe klein) dit is nie - dit kan waar word.
Hoogtepunt van die matriekafskeid
As ek aan my hoogtepunt van die aand dink, was dit nie die glans of die rok of die flitsende ligte van die kamera nie. Dit was die oomblik toe my date, wat van 'n ander skool af kom, vir my sê: "By julle voel 'n mens asof jy hoort. Daar is geen skeiding tussen die onderwysers en die leerders en die leiers nie - almal is soos een groot familie."
Daardie woorde het die gevoel in my hart, in woorde omgesit.
Vir vier jaar is dit wat ek beleef het - hierdie was my huis, nie net 'n skool nie. Mense wat my geleer het wat dit beteken om te behoort, om saam deur moeilike en mooi tye te gaan en steeds te glimlag.
My hoogtepunt was dus nie net om 'n prinses vir een aand te wees nie, maar dit was om te besef dat ek, dwarsdeur my sprokie, nooit alleen was nie. Ek behoort!
Planne vir na matriek
My heel eerste plan is om stadig in die grootmenswereld in te beweeg, om getrou te bly aan die dinge wat ek ken, en stap vir stap te leer wat dit beteken om my eie besluite te neem.
Ek is voorlopig ingeskryf by die NWU en dit is die enigste vaste plan wat ek het - Die res van my lewe lê soos 'n groot, oop boek voor my en ek sal dit een bladsy op 'n slag skryf.
Gunsteling woord in Afrikaans
Luister
Datum van matriekafskeid
2025-08-22