Suryke van Schalkwyk

Hoërskool Rustenburg

Tuisdorp

Buffelspoort

Skool

Hoërskool Rustenburg

Wie het jou matriekafskeidrok ontwerp / waar het jy dit gekoop?

Ek het self my rok ontwerp. Van die eerste pas tot die laaste knopie wat vasgewerk is, het meneer Peter Bondesio my gehelp om my droomrok te bewaarheid.

Wat was die inspirasie agter jou matriekafskeidrok?

Van laasjaar af het ek geweet: dít is die rok wat ek wil dra. Nie omdat dit net mooi is nie, maar omdat dit iets van my karakter weerspieël. Eenvoudig, maar beslis nie plain nie. Prakties, met sy sakke (want ’n meisie moet slim én stylvol wees), elegant en vol glinster. Net soos ek glo elke dogter van God geskape is om te skyn. Wat hierdie rok nóg meer spesiaal maak, is dat dit omgewingsvriendelik ontwerp is. Die sequin-lap was swaar, en om daardie pragtige volume te behou sonder om onnodige materiaal te gebruik, is plastiek hergebruik binne-in die voering. Baie sorg en aandag is in elke detail van die rok gesit. Vir my gaan hierdie rok oor meer as net mode. Dis om die kans te gryp om soos ’n prinses te voel. Nie net omdat ek n pragtige rok dra nie, maar omdat ek dogter is van die Koning van konings, ons liewe Jesus. “Sy is beklee met krag en waardigheid, en sy lag sonder vrees vir die toekoms.” — Spreuke 31:25

Wat beteken jou matriekafskeidrok vir jou?

Hierdie rok beteken vir my ongelooflik baie. Nie net omdat dit mooi is nie, maar omdat ek soveel moeite, aandag en liefde daarin gesit het. Elke detail is met sorg beplan, en dis iets waarin ek regtig myself sien. Ek wou hê dit moes tydloos wees. Iets wat altyd stylvol en besonders sal bly, maak nie saak hoe die modes verander nie. Dis waarom ek besluit het om die rok só te laat maak dat ek dit weer in die toekoms by ander funksies kan dra. Vir my simboliseer die rok meer as net mode; dit staan vir selfuitdrukking, eenvoud met betekenis, en die skoonheid daarvan om jouself getrou te bly.

Hoogtepunt van die matriekafskeid

1)Beslis die fotosessie saam met my beste vriend,wat ook my kêrel is, Henro Prinsloo. Daardie oomblikke vol lag, pret en opgewondenheid het die dag op die mooiste manier begin. 2)Om saam met hom by die tapyt af te loop. In daardie oomblik het dit vir my amper onwerklik gevoel — asof tyd vir ’n oomblik stilgestaan het. Ek het besef dat my hoërskoolhoofstuk besig is om tot ’n einde te kom, en al die jare se kosbare herinneringe het soos flitse deur my gedagtes gegaan. Dit was ’n diep en emosionele oomblik wat my byna tot trane geroer het. 3)Om al my vriendinne in hul pragtige rokke te sien. Elke rok het iets van haar persoonlikheid weerspieël. Die glimlagte, opwinding en trots het die aand nog meer besonders gemaak.

Planne vir na matriek

Na matriek beplan ek om B.Com Agri te studeer. Ek het toelating by beide Stellenbosch en Noordwes Universiteit ontvang, maar ek het besluit om by Noordwes te registreer omdat dit nader aan die huis is en ek voel dit is ’n goeie pas vir my persoonlik en akademies. Ek maak altyd seker dat ek betrokke is by verskeie aktiwiteite, en ek sien uit daarna om dieselfde ingesteldheid by my universiteitstudies voort te sit.

Gunsteling woord in Afrikaans

Stralend

Datum van matriekafskeid

2025-09-23

Like what you see?

Share on Social Media