Sarah Boonzaaier
Hoërskool Linden
Tuisdorp
Randburg
Skool
Hoërskool Linden
Wie het jou matriekafskeidrok ontwerp / waar het jy dit gekoop?
My matriekafskeidrok is deur Anysha van Klere&Co ontwerp en gemaak. Ons het by een van die eerste afsprake saam gesit en gesels oor die spesifieke elemente wat ek vanaf my Pinterest inspirasie-rokke wou hou en watter maar kon groet bv. die semi-deursigtige agterstuk by my rug was 'n moet. Sy het van daar af weggespring. Met elke afspraak waar ek die rok moes aanpas om seker te maak alles pas en lyk reg, is die rok van 'n idee tot 'n realiteit omskep.
Wat was die inspirasie agter jou matriekafskeidrok?
Ek is noggal iemand wat elegante eenvoud bo vreeslik baie tierlantyntjies verkies. My rok moes dus hierdie selfde reël volg. Ek hou egter daarvan om klein stukkies detail by te bring, wat die rok klassiek sal maak - nes die blommetjies op my rok. Dit was die perfekte balans tussen eenvoud en net genoeg detail om die rok lewe te gee. Die kleur was nie 'n moeilike keuse nie, siende dat ek blou oë het en daarom gedink het dat 'n blou rok my oë goed sou komplimenteer. Blou is ook die kleur wat al van kleins af die volopste in my klerekas is. Ek is egter iemand wat gewoonlik hou van sagter skakerings.
Wat beteken jou matriekafskeidrok vir jou?
My matriekafskeidrok verteenwoordig vir my skoonheid, sagtheid en selfvertroue. Hierdie rok het my werklik pragtig laat voel en daarom kon ek met selfvertroue die glansgeleentheid bywoon. Dit openbaar ook 'n stukkie van wie ek as mens is - sag en eenvoudig, maar as jy my beter leer ken is daar fyner detail wat net agter die eenvoud skuil. Hierdie rok getuig van my persoonlikheid, sonder dat 'n enkele woord ge-uiter hoef te word.
Hoogtepunt van die matriekafskeid
Die hele rokmaakproses was baie opwindend! Siende dat ek mal is oor enigiets wat met mode of mooimaak te doen het, was hierdie vir my regtig pret. My week was sommer beter as ek geweet het nog 'n afspraak wag waar ek my rok weer kon aantrek. Die aand van die matriekafskeid self was ook lekker, veral oor die mooi dekor en omdat ons lekker poeding gekry het. Daardie oomblik op die rooitapyt, geklee in my droomrok, is 'n oomblik wat ek sal koester.
Planne vir na matriek
Ek gaan 'n besluit neem wat ek nie noodwendig 'n paar jaar terug gedink het ek sou nie - ek gaan 'n gap-jaar vat. Hierdie jaar se hoofdoel is om myself weer buite die skoolopset te vind. Die afgelope paar jaar het baie angs in my lewe veroorsaak en daar was 'n paar moeilike beproewings. Ek gaan daarom 'n mengelmoes van aktiwiteite en kursusse doen waaroor ek passievol is - deel raak van die kerk se babahuis, 'n skryfkursus en natuurlik naaldwerk. Hierdie hele ontwerp en maak proses van my rok het my weer my liefde vir mode laat besef. So, ja. Ek doen dalk nie wat almal anders doen nie, maar die Here loop Sy paaie met ons elkeen.
Gunsteling woord in Afrikaans
ondeund
Datum van matriekafskeid
2025-10-02