Sané Fourie
Hoërskool Sentraal
Tuisdorp
Bloemfontein
Skool
Hoërskool Sentraal
Wie het jou matriekafskeidrok ontwerp / waar het jy dit gekoop?
Met behulp van ń paar foto's van rokke, het Titilayomi Kunnuji die ideale rok vir my ontwerp en gemaak. Die rok het al my verwagtinge oortref.
Wat was die inspirasie agter jou matriekafskeidrok?
Ek het op die styl van my rok besluit, omdat ek ń klassieke, maar tog ikoniese en riskante rok wou hê. ń Rok wat my vorm sal komplimenteer en ooreenstem met wie ek is - ń stil en sagte, maar passievolle meisie met groot drome. My rok lyk relatief eenvoudig van ver af, maar sodra ń mens oplet na die detail, dan besef mens dat die klein goed in die lewe baie mooi is - my lewens "motto". My ma se wynrooi matriek afskeid rok, nou net ń herinnering soos sy, is die rede waarom ek besluit het op dieselfde kleur. Dit was ń manier om nader te voel aan haar op die spesiale dag. Ek het besluit op die kant as versiering vir my rok omdat dit sag, delikaat en fyn is, maar terselfdetyd sterk en veerkragtig is; iets waarmee ek baie kan identifiseer. Die blinkers saam met die kant het dit net soveel meer persoonlik gemaak, omdat ek mal is oor enige iets wat glinster.
Wat beteken jou matriekafskeidrok vir jou?
My matriekafskeidrok is vir my meer as net ń rok, maar liewers ń weerspieëling van wie ek is en hoe die wêreld my gevorm het. Dit beeld verskeie aspekte van my persoonlikheid en lewe uit en dit wys my op die vrou wat ek geword het en die pad wat ek die laaste 18 jaar gestap het, insluitend die slaggate en opdraandes, maar ook al die maklike afdraandes. Die styl, die snit, die materiaal, die kleur, die blinkers en fyn detail, vertel alles ń storie oor my. My rok maak my trots op myself, en wys vir my wie ek is op maniere wat ek nie self kan sien nie.
Hoogtepunt van die matriekafskeid
Die hoogtepunt van die matriekafskeid was om vir my familie en vriende te wys hoe ek gelyk het. Dit was spesiaal om vir al my geliefdes te wys, hoe ver ek gekom het en hoeveel ek gegroei het, nie net fisies nie maar as ń mens. Hulle reaksies het my hart opgewarm en vir my hoendervleis gegee omdat ek besef het hoeveel hulle vir my beteken en hoe bevoorreg ek is om sulke spesiale mense, wat sonder dat ek eers die rok hoef aan te hê, werklik sien wie ek is. My rok het vir my selfvertroue gegee en my werklik laat voel soos ék.
Planne vir na matriek
Ek neem volgende jaar ń oorbruggingsjaar, waartydens ek verskeie kursusse wil doen om my vaardighede uit te brei. Ek stel al belang in argeologie vandat ek 5-jaar-oud was en ek dink om dit my loopbaan te maak. Ek wil volgende jaar ook gebruik om meer uit te vind oor argeologie en om te verseker dat dit werklik die regte studierigting vir my is.
Gunsteling woord in Afrikaans
Flaterwater
Datum van matriekafskeid
2025-10-04