Megan Burger

Megan Burger Megan Burger Megan Burger

Ouderdom

18

Tuisdorp

Klerksdorp

Skool en dorp/stad van skool

Klerksdorp Hoërskool

Wat was jou inspirasie vir jou matriekafskeidrok?

Elke dogtertjie se verbeelding het op een of ander tyd prentjies van haar as ‘n karakter in ‘n sprokiesverhaal bevat. Ek was die cliché, die prinses wie se ridder op sy wit perd verskyn en die lewe is net voëltjiegefluit en breë glimlagte, en baie jare later het daardie prentjies nooit my gedagtes verlaat nie. Toe my matriekafskeid nader kom, besef ek, ek het een kans om die prinses wat al hierdie jare binne in my vasgevang is, vry te laat. Maar, hierdie ‘kop-in-die-wolke’ dromertjie hou ook baie van struktuur…reguit lyne, simetrie, balans (daarom kies ek rekeningkunde en wiskunde bo natuurwetenskappe!) en ek hou nie van enige vorm van ‘n mengelmoes nie, veral nie kleure nie. Ek wou ‘n rok ontwerp wat my persoonlikheid reflekteer…’n gestruktureerde prinses. Geen frilletjies, krulletjies of valletjies nie. Ek het ‘n baie goeie idee gehad van my droomrok toe ek en my ma by Anel Botha gaan aanklop. Sy het dadelik my visie ingesien en ons het saam begin bou aan hierdie droom. Toe dit kom by die lap uitsoek het ek geweet daar moet niks blink nie en daarom besluit op ‘n Mikado wat lekker stewig is en die romp mooi sou laat staan. Ek wou ook nie ‘bling’ gehad het nie en eerder my rok met sagte pêrels versier (in reguit lyne, natuurlik). Ek het geweet my rok gaan pienk wees, want alles waarvoor ek lief is, is pienk. Maar pienk kan soms uitdagend wees want dis of Barbiepienk of Moeder-van-die-Bruid vuil pienk, maar toe ek hierdie lap sien toe is my hart gesteel. Dis lig, maar nie marshmallowpienk nie, met meer van ‘n perserige ondertoon as die bruin ondertoon van die tipiese vuilpienk. En ek het gedink die pêrels sal mooi vertoon op hierdie kleur, nie vreeslik uitstaan soos wit op swart nie, maar ook nie heeltemal wegraak nie. Ek was vreeslik bang vir oordoen en Anel was ‘n engel in daai verband. Sy het kort-kort foto’s en videos gestuur om seker te maak of ek hier ‘n dingetjie of daar ‘n dingetjie soek (of nie soek nie!). Toe ek die eindproduk sien, het ek in trane uitgebars. En toe ek my rok aantrek, het ek gevoel soos die prinses van my kleintyd drome. Dit was presies wat ek wou gehad het….gesofistikeerd tog sag, gestruktureerd tog prinseserig. My haarkapper was ook dadelik mal oor die idee van ‘n meer klassieke ‘look’ en ‘n stylvolle Fraanserol gemaak. Ek dink die opstyl het gehelp om die kraag van die rok mooi te beklemtoon, en was ook baie prakties sodat die prinses en haar prins kon dans en dans, totdat die klok 12uur geslaan het.

Hou van wat jy sien?

Deel op Sosiale Media