Lenese Siebert

Jim Fouché

Tuisdorp

Bloemfontein

Skool

Jim Fouché

Wie het jou matriekafskeidrok ontwerp / waar het jy dit gekoop?

Joelle Bukasa Toe my ouma my van die tannie vertel het, het ek dadelik besluit dat sy my rok gaan maak. By ons eerste vergadering het ek vir haar verduidelik hoe ek die rok wil hê. Sy het niks geskets nie — net gevra vir 'n foto van die korset en my afmetings geneem. Ek was aanvanklik 'n bietjie gestres dat sy my dalk nie mooi verstaan het nie, aangesien sy nie Afrikaans praat nie. By die aanpassing was ek egter geskok — sy het my só goed verstaan! Die tannie weet regtig wat șy. doen, en 'n klein tip vir mammas met 'n begroting: sy is baie bekostigbaar.

Wat was die inspirasie agter jou matriekafskeidrok?

Ander meisies en hul ma's weet al jare voor die matriekafskeid hoe DIE rok moet lyk. Mens kan maar sê ek was 'n bietjie agter in daardie kategorie. Dit was totdat my familie van ver af al wou sien hoe die rok lyk, terwyl ek nog nie eens 'n patroon gehad het nie. My tannie het vir my 'n rok gepos wat sy nie weer sou dra nie, met die gedagte dat ek dit kon dra - dan hoef ons nie een te laat maak nie. Ek het toe ander planne gehad: om die kant van daardie rok af te haal en 'n nuwe rok daaruit te maak.

Wat beteken jou matriekafskeidrok vir jou?

My matriekafskeidrok beteken baie — maar ook niks — virmy. My rok beteken baie vir my omdat dit volwassenheid, liefde, vreugde, vrede, getrouheid, omgee en vriendelikheid simboliseer. Dit is vir my die einde van 'n hoofstuk in my lewe; ek word nou groot. Hierdie waardes verteenwoordig ook hoe mense my hanteer het, en hoe ek ander hanteer het toe ek die rok gedra het. Tog beteken die rok ook niks vir my nie, want dit is'n aardse voorwerp. In die Bybel staan daar in Matteus 6:19-21: "Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte in die hemel bymekaar ... want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees." Dit herinner ons daaraan dat aardse goed tydelik is, en dat ons eerder moet fokus op hemelse skatte — die geestelike dinge wat ewig hou.

Hoogtepunt van die matriekafskeid

Vir my was die hoogtepunt van die matriekafskeid beslis die kos wat ons geëet het. Dit het presies soos my pa se Sondagmiddag-ete geproe! Daar was sappige lamsboud, hoender, spinasie, aartappels, rys en 'n verskeidenheid slaaie — soos aartappelslaai, mengelslaai en noedelslaai. En vir die soettande was daar kaaskoek en sjokoladekoek.

Planne vir na matriek

Om eerlik te wees, is ek nie honderd persent seker wat ek ná skool wil doen nie. Almal stel verskillende opsies en raad voor, maar een ding wat byna altyd dieselfde bly, is: "Jy hoef nie nou al te weet wat jy wil doen nie — daar is nog baie tyd om te besluit." Iets wat ek wel weet, is dat ek eendag mense wil help — maak nie saak of dit iets kleins of iets groots is nie. Ek wil 'n verskil maak in ander se lewens.

Gunsteling woord in Afrikaans

Letterlik

Datum van matriekafskeid

2025-10-10

Like what you see?

Share on Social Media