Lara Robinson

Hoërskool Waterkloof

Tuisdorp

Pretoria

Skool

Hoërskool Waterkloof

Wie het jou matriekafskeidrok ontwerp / waar het jy dit gekoop?

As gevolg van die baie spesifieke rok wat ek wou gehad het, het ek die rok self ontwerp en 'n digitale skets daarvan gemaak. Ciska Barnard Couture het my ontwerp tot lewe gebring en eerlikwaar 'n rok van hoë kwaliteit geskep. Ek dink dat hulle my visie uitstekend oorgedra het.

Wat was die inspirasie agter jou matriekafskeidrok?

Vroeër hierdie jaar het ek 'n skoolprojek gedoen vir die vak Ontwerp. Ek het navorsing gedoen oor tradisionele Italiaanse karnaval kleredrag en was beïndruk deur die helder kleure en vloeiende patrone in goud. Ek wou 'n rok gehad het wat die helder kleure en unieke ontwerp weerspieël het. Die kleure rooi en goud het my altyd laat dink aan koninklikheid. Ek wou ook iets stylvol, elegant en vol grasie uitbeeld.

Wat beteken jou matriekafskeidrok vir jou?

Ek is nog altyd 'n baie stil mens wat afkyk terwyl ek loop, maar met die rok aan, het ek outomaties meer selfvertroue gehad. Ek kon my ken lig en voel asof ek tussen die koninklikes behoort. Etiket en goeie maniere is vir my baie belangrik en ek voel dat die rok die styl van 'n prinses uitbeeld. Ek wou ook nog altyd eendag Italië toe gegaan het om die pragtige argitektuur te ervaar, so ek is lief vir die rok se Italiaanse flair.

Hoogtepunt van die matriekafskeid

Ons matriekafskeid se tema was Versailles en dit was in ons skool se ouditorium gehou. Die hoogtepunt was die oomblik toe ek in die ouditorium instap en die asemrowende dekor gesien het. Daar het glaskandelare van die dak afgehang en beelde van die Versailles Paleis se interieur is op 'n groot skerm geprojekteer. Die hele atmosfeer was magies. Dit het gevoel of ek in 'n fantasieverhaal was. Die kos was uit die boonste rakke. Dit was so mooi opgedien en het so lekker geruik!

Planne vir na matriek

Ek gaan volgende jaar "Information Design" by die Universiteit van Pretoria studeer. Na my opleiding wil ek graag voltyds illustrasies doen vir boeke. En dan wil ek geld spaar, sodat ek Italië toe kan gaan!

Gunsteling woord in Afrikaans

My gunsteling Afrikaanse woord is die naam van 'n plaas in die Noord-Wes provinsie:"Tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskietfontein"

Datum van matriekafskeid

2025-10-02

Like what you see?

Share on Social Media