Junelle Miske
Dirk Postma
Tuisdorp
Pretoria
Skool
Dirk Postma
Wie het jou matriekafskeidrok ontwerp / waar het jy dit gekoop?
Ek het dit self ontwerp. Ek het 3 foto's - vir die moue, bostuk en onderstuk - van Pinterest afgekry en dit saam gekombineer. Ek het dit toe by Gelique Couture laat maak.
Wat was die inspirasie agter jou matriekafskeidrok?
Enige iemand wat my ken weet ek dra geel. Ek wil amper sê "ek is geel". Ek het al van jongs af komplimente gekry as ek geel gedra het en so het ek dit meer begin dra. Geel is ook die kleur wat kreatiwiteit verteenwoordig, en ek is 'n baie kreatiewe persoon, soos mense my ook al baie gesê het. So dit was vir my logies dat ek dit gekies het. Ek kan nie dink watse ander kleur my rok kon wees nie. Die ding wat ek verbaasend die meeste gehoor het op my matriekafskeiddag was dat dit so goed by my pas. Dit is ek.
En die ontwerp: ek het, soos ek genoem het, op Pinterest gaan soek waarvan ek hou en toe met dié idee/kombinasie opgekom. Ek het ook geweet dat ek 'n uurglas figuur is - die ideale vrou figuur - en so ek wou my dun middel beklemtoon. Ek wou baie graag 'n pofferige onderkant hê, maar toe besef ek dat ek dan uit proporsie gaan lyk, so toe sien ek dié moue en besef ek dadelik dat dit weer my rok bo sal uitbalanseer en saambind tot 'n eenheid.
Wat beteken jou matriekafskeidrok vir jou?
Baie. Dit is nie net 'n fisiese 'ding' wat my, wie ek is, uitbeeld nie, maar dit het gemaak dat ek my drome en 'n prestasie kon bewaarheid. Ek wou nog altyd met my rok, bene aan dieselfde kant (anders as wat ek gewoond is in al die jare wat ek al perdry. Ja, ek het 'n paar keer dit voor die tyd geoefen!), en natuurlik op 'n perd by die matriekafskeid aankom. Nie 'net nóg' 'n kar nie, maar op 'n terapeutiese maat wat my al deur al die jare van skool gehelp het. En met dié rok kon ek vier dat ek (amper) matriek klaar gemaak het - ten spyte van my gehoorgebrek of fisiese en geestelike uitdagings.
My rok het dit moontlik gemaak dat ek kan wys dat ek ook 'n gewone persoon is, nes die ander.
Hoogtepunt van die matriekafskeid
Definitief die aankoms, toe ek, gelei deur my metgesel, op die perd ingekom het en kon sit en hoor hoe almal ons harder as enige van die ander mense met hulle karre, toejuig. Wel, seker meer die perd, noudat ek daaraan dink...
Almal in my klas het gesê dit het letterlik soos 'n sprokiesverhaal gelyk. En ek moet sê, al is dit 'n cliché om dit te sê, dit het régtig ook soos 'n sprokiesverhaal gevoel!
Planne vir na matriek
Ek wou graag 'n graadkursus in Communication Design by Open Window gaan studeer, maar weens fisiese uitdagings wat op my pad hierdie jaar gekom het gaan ek net 'n jaar kursus by hulle doen in Graphic Design. Ek is mal oor alles design - logo's, interieure, handelsmerk goedere vir besighede ens.
Gunsteling woord in Afrikaans
vrolik
Datum van matriekafskeid
2025-10-03