Hayleigh Kinnear

Hoërskool Marais Viljoen

Tuisdorp

Alberton

Skool

Hoërskool Marais Viljoen

Wie het jou matriekafskeidrok ontwerp / waar het jy dit gekoop?

My matriekafskeidrok is volgens my eie ontwerp gemaak, in samewerking met Olive Branch Designs. Die talentvolle Marilize Esterhuizen het my visie met ongelooflike vakmanskap en aandag aan fyn besonderhede tot lewe gebring.

Wat was die inspirasie agter jou matriekafskeidrok?

Die inspirasie agter my matriekafskeidrok het ontstaan uit my soegtog na iets wat tydloos, elegant en betowerend is. Ek het navorsing gedoen oor kleure wat my gelaatstrekke die beste komplimenteer, en toe ek op die kleur “midnight blue” afkom, het ek geweet dít is die kleur wat sal vertel wie ek is. Diep, misterieus, met ’n sagte glans. Die kleur herinner my aan die naghemel vol sterre. Ek wou hê my rok moes gesofistikeerd, formeel en romanties wees, met ’n tekstuur wat lewe kry in die lig. My rok is volledig met kralewerk versier en met ń delikate kant by die lyfgedeelte afgewerk. Elke element is doelbewus gekies om elegansie uit te straal. Ek het ook self die materiaal gaan kies. My rok weeg altesaam 3,2 kg, wat die ryk detail en gehalte van die materiaal weerspieël.

Wat beteken jou matriekafskeidrok vir jou?

Toe ek my rok die eerste keer aantrek, het dit gevoel alsof my hart gloei. Daardie opgewonde, oorweldigende gevoel wanneer iets eenvoudig reg is. As ek van iets hou, wil ek letterlik uit my vel spring, en dié rok het presies daardie reaksie in my ontlok. Vir my simboliseer my matriekafskeidrok volwassenheid. Die besef dat ek nie meer die klein Graad 1 dogtertjie is wat ek was nie, maar ’n matrikulant wat gereed is om haar eie pad te stap. Ek is iemand wat daarvan hou om elke dag stylvol aan te trek. My 15 jarige broer dink gereeld ek is oppad uit, maar ek is net oppad kombuis toe, maar in styl. :-) Dit is vir my belangrik om myself elke dag met styl en selfvertroue te dra, en my rok het dit perfek vasgevang. Dit verteenwoordig wie ek is: elegant, doelgerig en trots op my eie identiteit.

Hoogtepunt van die matriekafskeid

Een van die hoogtepunte van my matriekafskeid was om saam met my metgesel op die rooi tapyt te loop. Toe ons voor almal verby stap, het ek ’n intense gevoel van trots ervaar. Nog ’n spesiale oomblik was om, as deel van die hoofleiers van ons skool, die dansvloer te open. ń Skooltradisie wat ’n besondere eer was. Dit was ’n bittersoet oomblik wat ek vir altyd sal onthou.

Planne vir na matriek

Ek beplan om na matriek verder te studeer by die Universiteit van Johannesburg in Menslike Hulpbronne (HR). Ek wil graag leer hoe om mense en hul talente effektief te bestuur en te ondersteun. Ek is ook ’n gekwalifiseerde Vlak 1-atletiekafrigter en beplan om na matriek atletiek af te rig. Ek wil graag my passie vir atletiek deel en my kennis oordra aan ander jonger atlete. Terselfdetyd gaan ek voort met my eie atletiek oefen seisoen om een van my doelwitte te bereik, en dit is om vir die Onder-20 Wêreldspele in die 400m te kwalifiseer.

Gunsteling woord in Afrikaans

Asemrowend - dit is wanneer iets so mooi is dit slaan jou asem weg!

Datum van matriekafskeid

2025-10-11

Like what you see?

Share on Social Media