Wie het jou matriekafskeidrok ontwerp / waar het jy dit gekoop?
Die regte lap was 'n uitdaging, wat ons 'n Kaapse draai laat maak het. Daar in die laaste winkel, toe ons eintlik al moed op gegee het, het ek die perfekte lap gekry waar ek met eerste oogopslag verlief geraak het daarop. Dit het dadelik met my gepraat, stylvol in swart, maar met genoeg kleur dat dit my droom kon laat waar word. Ek het nog altyd gedroom van 'n stylvolle rok, maar een wat my sou kon laat uitstaan in 'n skare. Daar en dan kon ek 'n prentjie skep van hoe my rok sou lyk, en ek moet bieg die eindproduk was by verre beter as wat ek verwag het. Die beeld in die spieël het my asem weggeslaan. Ek kon nie glo dat alles so perfek uitgedraai het nie. My rok het vir my, my Belle oomblik gegee, waarvan ek al van kleins af gedroom het.
Wat was die inspirasie agter jou matriekafskeidrok?
Ek het nog altyd aanklank gevind met die prinsses Belle, en haar pragtige geel rok. Sy is so 'n vriendelike en nederige karakter, sy prioritiseer haar familie en die welstand van ander, dis juis dié eienskappe van haar wat my geïnspireer het om haar rok as 'n voorbeeld te gebruik. So toe die tyd aangebreek het om my matriekafskeidrok te maak het ek klaar 'n idee in my gedagtes gehad van wat ek graag wou hê.
Wat beteken jou matriekafskeidrok vir jou?
My gunsteling aspek is definitief die geel blomme. Dit verteenwoordig geluk en vreugde wat my ook herinner aan my oupa wat altyd so 'n sonskyn mens was en altyd die lig aan die einde van my donker tonnels uitgewys het.