Cara Cilliers
Hoërskool Witteberg
Tuisdorp
Bethlehem
Skool
Hoërskool Witteberg
Wie het jou matriekafskeidrok ontwerp / waar het jy dit gekoop?
Ek het my rok gekoop by Leading Rose Boutique.
Wat was die inspirasie agter jou matriekafskeidrok?
Almal wat my ken, weet — as daar ’n dans of bal is, gaan ek nooit halfpad nie. Soos hulle sê: gaan groot of gaan huis toe! Ek het van die begin af geweet my matriekafskeid gaan iets besonders wees, en my rok moes dit weerspieël. Ek wou iets hê wat wys wie ek is — vol selfvertroue, elegant, uniek en natuurlik ’n bietjie van ’n glitter queen.
Aanvanklik het ek gedink ek gaan ’n geel rok kies, maar toe ek by Leading Rose Boutique rokke aanpas, het my planne heeltemal verander. Ek het soveel rokke aangetrek dat ek amper moed opgegee het, totdat ek daardie rok aangetrek het. Op daardie oomblik het ek geweet — hierdie rok is vir my gemaak. Ek het hoendervleis gekry en gevoel soos ek nog nooit tevore gevoel het nie. My ma het dadelik gesê dis die een, en natuurlik — sy was reg! Die rok het met my “gepraat” op ’n manier wat moeilik is om in woorde te beskryf.
Wat beteken jou matriekafskeidrok vir jou?
My rok beteken vir my baie meer as net materiaal en glinster. Dit was ’n weerspieëling van wie ek is — iemand wat nie bang is om anders te wees nie. Niemand het verwag dat ek met turquoise en pers sou verskyn nie, maar dis juis wat dit spesiaal gemaak het. Dis kleure wat ek van kleintyd af liefhet, en dit het gevoel asof my kinderlike drome en my grootmens-self saam op die dansvloer was. Ek het daardie aand my rok gedra — nie die rok my nie — en dis presies wat dit so besonders gemaak het.
Hoogtepunt van die matriekafskeid
Toe ek en my date, Pieter, uit die kar klim en almal se monde oopgehang het, het ek geweet dis my oomblik. Maar die ware hoogtepunt was toe ’n klein dogtertjie na my toe gekom het en gesê het my rok laat haar aan ’n meermin dink. Sy was mal oor meerminne, en later het haar ma vir ons ’n foto gestuur van haar meermin-uitrusting — in presies dieselfde kleure as my rok! Dit het my hart warm gemaak om te sien hoe iets so eenvoudig iemand anders kan inspireer om in haar eie drome te glo.
Ek wens vir elke meisie om haar eie fairytale-oomblik te hê — kies iets wat jou laat glimlag, nie iets wat net inpas by ander se smaak nie. Jou rok moet jou storie vertel — want dis jou dag om te blink, te glo, en jou ware self te wees. ✨
Planne vir na matriek
Na matriek gaan ek ’n nuwe en opwindende hoofstuk begin — ek gaan Grondslagfase-onderwys studeer deur die posprogram by Aros. Terselfdertyd gaan ek as ’n student-onderwyser by Laerskool Park in Mosselbaai werk. Dit is vir my ’n ongelooflike geleentheid om te leer én praktiese ervaring op te doen met die kinders vir wie ek so lief is.
Om met klein kinders te werk, was nog altyd my droom — van kleins af het ek geweet dit is waar my hart lê. Daar is iets besonders daaraan om deel te wees van ’n kind se eerste leerervarings, om hulle te help glo in hulself en om daardie eerste vonkie van selfvertroue in hulle te sien. Ek glo dis waarvoor ek op aarde is: om ’n verskil te maak in jong lewens deur liefde, geduld en inspirasie te gee.
Om Mosselbaai toe te trek gaan beslis ’n groot verandering wees, want dit is ver van my huis af, maar ek weet dis presies waar Jesus my wil hê. Ek voel rustig en opgewonde oor die pad wat voorlê. Hierdie besluit gee my sekerheid, doel en hoop vir die toekoms. Ek sien uit daarna om te groei — as mens, as onderwyser, en as iemand wat daagliks ’n positiewe invloed kan wees in kinders se lewens.
Gunsteling woord in Afrikaans
Droom
Datum van matriekafskeid
2025-10-03