Amoré Knoetze

Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria

Tuisdorp

Pretoria

Skool

Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria

Wie het jou matriekafskeidrok ontwerp / waar het jy dit gekoop?

My matriekafskeidrok is ontwerp en gemaak deur Kobus Rautenbach Couture van Klerksdorp. Dit was ’n ongelooflike opwindende ervaring om saam met Kobus te werk. Hy het my visie perfek verstaan en iets besonders geskep.

Wat was die inspirasie agter jou matriekafskeidrok?

Ek het van die begin af geweet my rok moet skyn op die aand van my matriekafskeid. In Graad 8 stap 'n jong dogtertjie deur die skool se hekke – iemand wat reeds besonders is, vol drome en opgewondenheid vir wat voorlê. Oor vyf jaar groei daardie dogtertjie egter in ’n dame – vol selfvertroue, grasie en trots oor wie sy geword het. By my skool is daar ’n pragtige tradisie: Ons het in 2021 begin as seesterre en nou, as matrieks van 2025, stap ons uit as volwaardige supersterre. Ek wou 'n rok dra wat hierdie reis simboliseer – die groei, selfvertroue en trots wat ek oor vyf jaar opgebou het.

Wat beteken jou matriekafskeidrok vir jou?

My matriekafskeidrok het nie net één betekenis nie – dit is ’n versameling van herinneringe, mense en oomblikke wat my hele skoolreis saamvat. Van die eerste keuse oor die ontwerp en ontwerper, tot die materiaal, kleur, stene, grimering en my hare – elke besluit was deel van ’n spesiale reis. By elke stap was daar iemand wat my ondersteun het: mense wat al van my eerste skooldag af in my lewe is, maar ook nuwe mense wat die afgelope jaar ’n kosbare plek in my hart gekry het. Vir my is my rok dus veel meer as net iets mooi om te dra – dit is ’n simboliese reis, een wat ek vir altyd naby aan my hart sal hou. Elke steen op my rok verteenwoordig iemand wat my pad oor twaalf jaar gekruis het – van my heel eerste maatjie in Graad 0 tot elke liewe Graad 12-dame wat saam met my op daardie rooi tapyt op ons groot aand gestap het.

Hoogtepunt van die matriekafskeid

My matriekafskeid het soveel hoogtepunte gehad dat ek eerlikwaar nie een kan uitsonder nie. Ek weet dit klink dalk bietjie sappig, maar elke oomblik van 7 Oktober 2025 was vir my besonders. Een van die mooiste oomblikke was toe my kêrel, direk uit die vliegtuig uit, nadat hy nog daardie oggend ’n eksamen by die Universiteit van Stellenbosch geskryf het, op die rooi tapyt saam met my kon stap – dit het my hart laat klop van geluk en dankbaarheid. Van die motor waarin ons aangekom het, tot my ouers en al die spesiale mense wat met liefde en trots in hulle oë langs die rooi tapyt gestaan het, was alles vol betekenis. Die instap in die saal, die opening van die dansbaan en die kuier saam met die mense wat saam met my vir vyf jaar lank op hierdie aand gewag het – elke sekonde was ’n hoogtepunt. Dit was die perfekte afsluiting van ’n onvergeetlike skoolloopbaan.

Planne vir na matriek

Volgende jaar gaan ek BCom Regte studeer aan die Universiteit van Stellenbosch. Ek is ongelooflik opgewonde en bevoorreg om hierdie nuwe hoofstuk van my storie te begin skryf.

Gunsteling woord in Afrikaans

Spiekeries

Datum van matriekafskeid

2025-10-07

Like what you see?

Share on Social Media