Jeanevé Schültz
Ouderdom
Tuisdorp
Skool en dorp/stad van skool
Wat was jou inspirasie vir jou matriekafskeidrok?
My inspirasie was eintlik iets baie besonders.
Ek het aanvanklik ’n baie spesifieke idee gehad van hoe ek vir my matriekafskeid wou lyk. Ek het selfs twee modeontwerpers besoek, met die idee om ’n swart kantrok te laat ontwerp. Ons het verskillende ontwerpe bespreek en sketse oorweeg, maar al het ek geweet wat ek in gedagte gehad het, het nie een van die sketse regtig met my gepraat nie. Dit het gevoel asof daar iets ontbreek.
Uiteindelik het ek besluit om eerder ’n rok te gaan koop. By die eerste boetiek wat ons besoek het, het iets gebeur wat ek nooit sal vergeet nie. Die rok het nog agter die toonbank gehang. Dit was pas uitgepak en hulle was besig om dit te stoom. Niemand het dit nog aangepas of eens behoorlik gesien nie. Ek het reguit na die rok toe geloop sonder om eers verder in die winkel rond te kyk. Ek het dit aangepas en dit het perfek gepas – asof dit spesiaal vir my gemaak is. Ek het net geweet: “Hier is my rok!”
Eers nadat ons die rok gekoop het, het ons begin besef dat daar soveel meer agter elke detail skuil. Sonder dat ons dit vooraf geweet of beplan het, het die rok ’n storie begin vertel – ’n storie wat op ’n besondere manier verweef is met my persoonlikheid en die pad wat ek deur my matriekjaar gestap het.
Dit was asof die rok my gekies het, nog voordat ek geweet het wat dit alles beteken. Eers later het ons besef dat dit nie bloot die rok was waarin ek my matriekafskeid sou bywoon nie, maar een wat op ’n besondere manier iets van my eie verhaal vasgevang het.
Miskien was dit bestem om my storie te vertel, nog voordat ek self die woorde daarvoor gehad het.
Om die storie nog meer besonders te maak, het my mamma die storie op pragtige swart papier met pienk pioene (peonies) daarop laat druk. Selfs die koevertjie is in dieselfde styl versier. Só het sy vir my ’n tasbare herinnering van die storie agter my rok geskep – die woorde waarin sy die betekenis en elke besondere detail van my rok vasgevang het.
Vir die formele deel van die aand het ek pragtige hakskoene gedra wat perfek by my rok gepas het. Maar ek het ook my eie plan gehad vir wanneer die dansvloer roep! My persoonlike Converse, met my naam en ’n klein hartjie daarop, was gereed vir wanneer die hakskoene eenkant geskuif word, die musiek harder speel en ek die res van die aand vrylik kon dans, lag en net myself wees. ❤
