Alishia Middleton

Hoerskool Zwartkop

Tuisdorp

Pretoria

Skool

Hoerskool Zwartkop

Wie het jou matriekafskeidrok ontwerp / waar het jy dit gekoop?

Ek het my eie rok ontwerp en Joseph Anker het dit vir my gemaak.

Wat was die inspirasie agter jou matriekafskeidrok?

As klein dogtertjie was ek altyd ’n prinses. Ek het ’n Elsa-rokkie gehad en ure lank gedroom dat ek Elsa self is. Min het ek geweet dat my droom jare later, aan die einde van my matriekjaar, sou waar word — met my eie unieke Elsa-rok. Ek het geweet ek wou elegant lyk, soos ’n ware Elsa-prinses. My rok moes uniek wees, iets wat my persoonlikheid weerspieël. My wyse juffrou, Juffrou Trudie, het altyd gesê: “I am born to stand out, not to fit in.” Daardie woorde het by my vasgesteek — ek wou anders wees, maar steeds myself bly. Ek wou hê my rok moes my sagtheid en onskuld uitstraal, maar tog iets van selfvertroue en styl hê. Ek het lank gedink oor die idee van ’n skeur/slit, maar was aanvanklik te skaam. Toe ontstaan die idee van die lycra-broekie, bedek met dieselfde kant as my bostuk — elegant én beskeie. Só kon ek met trots my lang, sterk bene wys, sonder om skaam te voel. Ek wou nie hê my rug moes te kaal wees nie, daarom het ek dit oop, maar tog bedek met kant ontwerp. Die 3D-blomme en blare wat op my rok vasgewerk is, het amper lewendig gevoel — asof hulle hul eie storie vertel, ’n boodskap aan ander wat ek self nooit kon uitspreek nie. Die ligte wit kleur met ’n Elsa-blou ondertoon het my sagte, unieke self perfek weerspieël — dit het die Alishia in my laat skyn: sag, stylvol, en trots op wie ek is. En natuurlik moes die kleur my mooi blou oe komplementeer.

Wat beteken jou matriekafskeidrok vir jou?

Op 4 Oktober 2025 het ek werklik my mooiste gevoel, gelyk én geloop – soos ’n ware Elsa het ek geskitter. Dit was soos ’n droom, ’n sprokie wat lewend geword het. Dit het gevoel asof ek deur my rok asemhaal – asof dit deel van my siel was. My rok het aan my maats gewys wie ek werklik is: ’n grasieuse meisie, sag maar sterk, wat deur die wit blomme- en blarekant haar onskuld kon uitstraal. Die sagte oop rug van my rok het my mooi rug vertoon, maar steeds my sagtheid beskerm. Ek het van kleins af aan baie sportsoorte deelgeneem, en daarom is ek trots op my mooi, sterk bene. Die unieke oop skeur aan my rok het dit subtiel beklemtoon – net genoeg om nuuskierigheid te wek, maar met styl en elegansie. My lycra-broekie met dieselfde kant as my bostuk het my onskuld en styl perfek gebalanseer. Nog nooit tevore het ek só mooi gevoel nie. Nog nooit só spesiaal nie. As ’n stil meisie in die hoërskool het my rok my vir een aand die selfvertroue gegee om regtig te straal – ’n aand waarin ek soos ’n Elsa-prinses gevoel het.

Hoogtepunt van die matriekafskeid

Daar was soveel hoogtepunte – eerlikwaar, die hele dag was vir my een groot hoogtepunt. Vanaf die oomblik toe ek die bekende Louise Volschenk van The Mommy Club in Pretoria ontmoet het, en sy my pragtig gegrimeer het, het ek geweet dit gaan ’n dag wees om te onthou. (My ouers het dit vir my as verrassing gereel). Toe ek later op die rooi tapyt instap, het ek gevoel asof ek deel is van my eie sprokie. En toe ek uiteindelik op die dansvloer staan en soos ’n prinses in die rondte draai, het ek besef: hierdie is my oomblik. Sjoe, daar op die dansvloer het dit vir my gevoel asof ek en Leam deelneem aan die program “Dancing with the Stars” – so vol energie, vreugde en styl! My hele dag was ’n sameloop van mooi herinneringe en spesiale oomblikke wat ek nooit sal vergeet nie. Ek het elke sekonde geniet – van begin tot einde – saam met my ouers wat my met soveel liefde en trots ondersteun het. Dit was nie net ’n matriekafskeid nie… dit was ’n sprokiesdag wat my hart vir altyd sal bybly.

Planne vir na matriek

Ek wil graag eendag n Pediatriese Neuroloog word. Ek het aansoek gedoen by verskeie universiteite in Suid-Afrika. Tans leer ek baie hard, probeer my beste en deur my geloof bid ek dat daar erens vir my n plekkie sal oopgaan sodat ek in 2026 MBChB kan begin studeer. Dit is n langpad, maar ek is baie lief vir kinders en sal baie graag n verskil in kinders se lewens eendag wil maak.

Gunsteling woord in Afrikaans

Skrikkeljaar

Datum van matriekafskeid

2025-10-04

Like what you see?

Share on Social Media