Suriesé Loubser

Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria

Tuisdorp

Potchefstroom

Skool

Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria

Wie het jou matriekafskeidrok ontwerp / waar het jy dit gekoop?

Ek het my rok by Ernst Schutz Exclusive laat maak, en soos altyd het hy presies verstaan wat ek in gedagte gehad het. Hy weet net hoe om ‘n idee lewendig te maak — elke detail, elke stiksel perfek. Ek loop al van graad 10 af saam met hom dié pad, en elke keer verras hy my weer met sy ongelooflike talent en aandag aan detail. Dis meer as net ‘n rok vir my — dis ‘n droom wat Ernst met sy hande laat waar word.

Wat was die inspirasie agter jou matriekafskeidrok?

Die inspirasie agter my rok kom uit iets baie persoonliks — my pa noem my nog altyd sy prinses, en ek wou daardie gevoel van sagtheid en trots in elke detail vasvang. Ek het ook my ma se elegansie daarin gevleg, haar natuurlike styl en grasie wat altyd vir my ‘n voorbeeld was. Tog moes die rok ook ’n stukkie van my eie persoonlikheid dra — iets uniek, lewendig en onmiskenbaar ek. Dis hoekom ek gekies het vir die opvallende “wow”-rug en die besondere kleur wat onmiddellik aandag trek, maar steeds ‘n gevoel van verfynde styl behou. Die korter voorkant was doelbewus — ek wou vry kan beweeg, gemaklik loop en dans sonder om aan iets te trek of vas te sit. My rok moes nie net mooi wees nie; dit moes lewendig voel, vol selfvertroue, grasie en daardie tikkie magie wat net ek kon dra.

Wat beteken jou matriekafskeidrok vir jou?

My rok beteken vir my soveel meer as net die viering van 12 wonderlike jare op skool — dit is ’n simboliese storie van liefde, familie en dankbaarheid. Elke steek dra herinneringe: my pa wat onophoudelik werk om hierdie droom vir my moontlik te maak, en my ma en sussie wat saam met my ure lank op Pinterest rondgesnuffel het, opgewonde oor elke nuwe idee. Daardie oomblikke was gevul met lag, opwinding en geselsies wat ek vir altyd sal koester. En toe my pa en boetie my vir die eerste keer in my rok sien — daardie vonkel van trots en verwondering in hul oë — het ek geweet dis meer as net ’n rok. Dis ’n viering van liefde, harde werk en familieband. Hierdie ervaring was ’n ware seën, en my hart is oorvol dankbaarheid.

Hoogtepunt van die matriekafskeid

Die hoogtepunt van my matriekafskeid was sonder twyfel die oomblik toe ek al my vriendinne se rokke vir die heel eerste keer gesien het. Dit was so besonders om te sien hoe elkeen se rok haar persoonlikheid perfek weerspieël het — van sag en dromerig tot vreesloos en vol lewe — en tog was almal uniek en pragtig op hul eie manier. Daar was soveel vreugde en opregte blydskap; niemand het mekaar probeer oortref nie, ons het mekaar eenvoudig gevier, soos net ware vriendskap dit kan doen. Die gelag, die komplimente en die gevoel van saam-wees het daardie aand onvergeetlik gemaak. En toe my pa ‘n traan pik toe hy my vir die eerste keer in my rok sien, het ek geweet — dis nie net ’n aand om mooi te lyk nie, dis ’n aand om alles wat my hierheen gebring het te vier: liefde, trots en die mense wat my pad so besonders gemaak het.

Planne vir na matriek

As alles volgens plan verloop, is my droom om Regte met Sielkunde te gaan studeer — ’n kombinasie wat my toelaat om mense beter te verstaan én vir regverdigheid op te staan. Terselfdertyd wil ek natuurlik ook my groot passie vir netbal uitleef, want dis waar ek my vry en lewendig voel.

Gunsteling woord in Afrikaans

Skirminkel

Datum van matriekafskeid

2025-10-07

Like what you see?

Share on Social Media