Marlé le Grange

Afrikaans Hoër Meisieskool

Tuisdorp

Centurion

Skool

Afrikaans Hoër Meisieskool

Wie het jou matriekafskeidrok ontwerp / waar het jy dit gekoop?

Roedolf D Courture ontwerp en gemaak deur Roedolf Jansen

Wat was die inspirasie agter jou matriekafskeidrok?

Ek het vir ’n sagte voorkoms gekies. My doel was om iets eenvoudig en tydloos te dra, sonder om vir die gewone kleure soos koningsblou, rooi, smaraggroen of swart te gaan. Ek het my rok verskeie kere aangepas om die ontwerp beter by my styl te laat pas. Aanvanklik wou ek baie lae hê, maar ek het besef dat dit my bewegings sou beperk. Daarom het ek die aantal lae verminder sodat die rok ligter en met meer vloei kon beweeg. Die bokant van die rok, met die *drop waist*-ontwerp, komplimenteer my figuur goed, en ek wou doelbewus iets anders doen as wat die meeste ander gedoen het. Ek het oorspronklik beplan om pêrels in lyne op die bolyf te hê, maar ons het uiteindelik besluit op materiaal met ingeboude krale wat ’n sagte glans gee en mooi saamwerk met die res van die ontwerp. My rok het ook ’n skeuring (*slit*), maar ek wou nie hê dit moes te bloot lyk nie. Daarom het ek ekstra materiaal aan die kante van die skeuring laat aanwerk, sodat dit net effens sigbaar is wanneer ek beweeg, maar meestal bedek bly. Ek het aanvanklik ’n oop rug oorweeg, maar daarvan afgesien, ek wou nie bandjes gehad het nie want ek wou my skouers oop gehou het.

Wat beteken jou matriekafskeidrok vir jou?

My rok verteenwoordig wie ek as mens is. Dit weerspieël my persoonlikheid — iemand wat van nature ’n introvert is, maar met tyd en gemaklikheid meer na buite begin leef en ’n ekstrovertere kant wys. Op die oog af lyk my rok eenvoudig: die bolyf pas styf teen my lyf, terwyl die onderkant sag en natuurlik afvloei. Maar wanneer jy nader kyk, sien jy die fyn besonderhede — die valle, die krale en die sagte blompatrone onder die kralewerk. Die korset gee struktuur aan die rok en bring balans teenoor die sagte elemente, wat vir my simboliseer hoe ek steeds sterk bly, selfs wanneer ek my sagter kant wys. Die agterkant van die rok word met lint vasgebind en is nie permanent toe nie. Dit het vir my betekenis, want dit wys dat ek oop is vir verandering, dat ek myself kan aanpas en graag nuwe uitdagings en ervarings aanpak. My rok herinner my daaraan dat groei belangrik is — dat ’n mens nie in jou gemaksones moet bly nie, maar elke jaar moet verander, ontwikkel en nuwe dele van jouself ontdek.

Hoogtepunt van die matriekafskeid

Die hoogtepunt van my matriekafskeid het begin toe ek met my grimeer en hare begin het. Daardie oomblik het ek besef dat alles waarvoor ek gewerk en beplan het, uiteindelik bymekaar kom. Toe ek my finale uitrusting aantrek en gereed was om uit te stap, het ek besef dat al die moeite en twyfel die moeite werd was — selfs al het ek baie keer van plan verander oor my rok. Toe ons by die lokaal aankom en ek die onthaal betree het, was dit ’n besonderse gevoel om almal weer te sien — veral dié wat my deur die jaar gevra het oor my rok, maar nog nooit die finale resultaat gesien het nie. Later die aand, toe ons by die tafels gesit het, kon ons uiteindelik ontspan, gesels en lag na die druk van die rekoreksamen. Die musiek op die dansvloer het die energie van die aand vasgevang — al was my voete seer, kon ek eenvoudig nie ophou dans nie. Dit was ’n aand vol vreugde, herinneringe en afsluiting wat ek altyd sal onthou.

Planne vir na matriek

Ek wil graag ná matriek verder studeer en terselfdertyd aan my entrepreneursvaardighede werk. My doel is om met binnenshuise ontwerp (*interior design*) te begin en my kennis en vaardighede in dié rigting verder uit te bou. Ek sien myself in die toekoms as iemand wat nie net kreatief ontwerp nie, maar ook ’n suksesvolle entrepreneur word wat eie projekte en idees tot uitvoering bring.

Gunsteling woord in Afrikaans

kolwyntjie

Datum van matriekafskeid

2025-10-07

Like what you see?

Share on Social Media