Inge Grobler

Potchefstroom Gimnasium

Tuisdorp

Potchefstroom

Skool

Potchefstroom Gimnasium

Wie het jou matriekafskeidrok ontwerp / waar het jy dit gekoop?

Ek het die besonderse voorreg gehad om my rok deur Helena Botha (@helenathelabel) te laat maak!

Wat was die inspirasie agter jou matriekafskeidrok?

Ek en Helena het weke lank geworstel met ‘n klomp idees oor hoe ek wou gehad het die rok moes lyk. Die rok was eers ‘n “high-low” met blom motiewe en toe ‘n ligpienk rok met blinkers. Nie een van hierdie idees het egter soos ek gevoel nie. Ek het net geweet ek soek iets met baie krale en baie detail. Ek het toe uiteindelik gaan rokke pas, en het toe verlief geraak op valle. Toe ek weer na Helena toe gaan, het sy voorgestel dat ons ‘n kort rokkie onder die valle maak vir die funksie na die tyd! Nadat Natasha Joubert se verlowing en troue almal op hol gehad het, het ek besluit om die korter rokkie op die rok wat sy na haar verlowingspartytjie toe gedra het, as inspirasie te gebruik! ‘n Rok om die erns van ‘n matriekafskeid vas te vang, maar ook die kinderlike opgewondenheid daarvan. ‘n Rok wat tydloos en elegant is, en wat ek na nog vele spesiale funskies in my toekoms kan dra. Die perfekte rok.

Wat beteken jou matriekafskeidrok vir jou?

My matriekafskeidrok is die perfekte uitbeelding van wie ek is as mens. Van ver af, lyk ek dalk ernstig, met al my planne bymekaar. Maar as jy my beter leer ken, sal jy agterkom dat ek onder al die valle baie lief is vir die prettige (en dikwels nie belangrike) dinge wat die lewe mooi maak! My matriekafskeidrok is vir my ook simbolies van al die harde werk wat ek regdeur my skoolloopbaan gedoen het om uiteindelik tot hier te kom. Dit simboliseer ook al die mense sonder wie se ondersteuning ek nie sou kon klaarkom nie. My matriekafskeidrok is dus ‘n liefdesbrief aan my skoolloopbaan en al die mense wie my in hierdie jare gevorm het tot wie ek is.

Hoogtepunt van die matriekafskeid

Die hoogtepunt van my matriekafskeid was die oomblik net voordat ek en my metgesel uit die kar uitgeklim het om oor die rooi tapyt te loop. Dit was só ‘n bittersoet oomblik. Dit is toe wat ons besef dat ons tyd uiteindelik aangebreek het - dit is nou ons beurt om ons hoofstuk by Gimmies af te sluit. Ek het teruggedink aan al die matrieks van die vorige jare en hoe volwasse hulle gelyk het terwyl ons hulle sien stap het oor die tapyt en het net gehoop ek lyk ook so volwasse. Almal se gejuig het my ook laat besef dat alhoewel ons nou in ‘n nuwe hoofstuk ingaan, ons altyd ondersteuning sal hê.

Planne vir na matriek

Ek wil graag na matriek, soos my oupa, ma, pa en tannie Aptekerswese by die Noordwes Universiteit gaan swot. Ek is al van kleintyd af blootgestel aan al die wonderlike goed wat goeie medisyne vir ons gemeenskap kan doen. Ek is mal oor chemie en sien uit om te leer hoe moderne medisyne die wêreld van vandag verander en nog kan verander. Ek kan nie wag om deel te raak van daardie beweging nie en beplan om my tyd op universiteit ten volle te benut. Ek sien uit om nuwe mense te ontmoet en te sien hoe ek verder ontwikkel in ‘n jong volwassene!

Gunsteling woord in Afrikaans

Kriewelkous!

Datum van matriekafskeid

2025-10-02

Like what you see?

Share on Social Media