Carli Burger
Hoërskool Linden
Tuisdorp
Johannesburg
Skool
Hoërskool Linden
Wie het jou matriekafskeidrok ontwerp / waar het jy dit gekoop?
My tannie, Henriette Burger, het my rok ontwerp en geskets. Rihette, van 39 Dresses, het toe die skets gebruik om my visie in realiteit te verander deur die rok te maak.
Wat was die inspirasie agter jou matriekafskeidrok?
Ek het twee verskillende fotos van twee verskillende rokke baie lief gehad. Ek het die twee fotos vir my tannie, Henriette Burger, gewys. Sy is ‘n mode-ontwerper. Sy het die twee afsonderlike rokke saamgeskets, en sommer net so, was my matriekafskeidrok se ontwerp afgehandel! Ongelukkig bly tannie Henriette oorsee, en kon (weens die afstand) nie my matriekafskeidrok maak nie. Die eerste foto wat ek vir haar gewys het, was ‘n ligte pers rok wat ek al vanaf graad 8 (2021) op my ‘Pinterest-board’ gestoor het. Ek het so baie van die elegante nek-lyn van die pers rok gehou. As mens dieselfde nek-lyn van ‘n rok vir vyf jaar besonders vind, moet mens weet dat dit die regte nek-lyn vir jou is! Die tweede foto se romp-gedeelte het my asem weggeslaan. Dit was ‘n A-lyn. Die romp bestaan uit twee lae: die onderste laag is van ‘n blink-materiaal gemaak en bevat ‘n slit. Die boonste laag is ‘n tipe ‘tulle’-materiaal wat die hele onderste ‘romp-laag’ bedek. Die ‘Tulle’ is deursigtig en bedek ook die slit.
Nie een van die twee fotos was van ‘n koningsblou-rok nie. So hoe het ek op die kleur besluit? Wel, ek het ‘n pragtig koningsblou OTG sporthempie waarvan ek baie hou. En so het ek op die kleur besluit.
Ek het uiteindelik my matriekafskeidsrok se ontwerp na Rihette, van 39 Dresses gevat om die droom in werklikheid te omskep.
Wat beteken jou matriekafskeidrok vir jou?
‘n Matriekafskeidrok is vreeslik persoonlik. Ek het die voorreg gehad om die kleur, materiaal, nek-lyn, romp, styl van die rug- en korset-gedeelte alles self te kon kies. My eie voorkeure, idees en karakter word in die rok weerspieël. My matriekafskeidrok sal nie dieselfde op enige ander meisie lyk nie - en net so, sal geen ander meisie se matriekafskeidrok dieselfde op my lyk nie. My matriekafskeidrok het vir my selfvertroue gegee om my karakter in koningsblou aan die wêreld te reflekteer.
Hoogtepunt van die matriekafskeid
Die hoogtepunt van die dag was nog vóór die matriekafskeid… om fotos te neem! Ek en een van my beste vriendinne het saam ons metgeselle in ‘n plaaslike dennebos ons matriekafskeid-fotos laat neem. Om te posisioneer soos wat ‘n model sou, om soos ‘n prinses te voel, en net om saam te lag, was wonderlik.
Ons matriekafskeid se hoogtepunt was definitief die ‘Ice-cream Ninjas’! Die roomys was nie net heerlik nie, maar die ‘Ninjas’ ook baie vaardig. Met al hulle toertjies het hulle ons hele matriek-groep vermaak.
Planne vir na matriek
Ek het al by Tuks aansoek gedoen om Aktuariële Wetenskappe te studeer. Ek het al ‘voorwaardelike aanvaarding’ gekry. Ek gaan hard werk om hierdie kursus te voltooi… ek hoor dis moeilik! Wonderbaarlik het ek ook keuring by die koshuis van my keuse, Erica, gekry. Ek sien vreeslik uit om Tuks toe te gaan. Dit lyk wonderlik!
Gunsteling woord in Afrikaans
Toertjie
Datum van matriekafskeid
2025-10-02