Wie het jou matriekafskeidrok ontwerp / waar het jy dit gekoop?
Vir my ontwerpkeuse, het ek gegaan met iets elegants, stylvol en eenvoudig. Ek is mal oor natuurlike, “earthy” kleure, daarom het ek gegaan met ‘n pragtige olyfgroen. Die blomdetail het nou weer bietjie van my geaardheid uitgebring, en die “slit” het gehelp met die bewegingselement van die sagte satyn.
Wat was die inspirasie agter jou matriekafskeidrok?
Dit klink nou baie “hippie”, maar my inspirasie vir die rok was die natuur. Daar’s niks mooier as die natuurskoon rondom ons waarmee ons geseën is nie. Dis iets wat ons daagliks raaksien, maar nie altyd waardeer nie.
Ek wou hê my rok moes soos ‘n vars oggendbriesie voel- en daardie doel het hy baie mooi verrig (of dit was net die norse weer van daardie dag!)
Wat beteken jou matriekafskeidrok vir jou?
My gunsteling deel van die rok was die tipe groen wat ek gekies het. Dit was regtigwaar spesiaal en besonders vir my. Ek’t ook gehou van die subtiele sleep van my rok (dit was wel die manne se grootse vrees tydens die sokkies daardie aand).