Stephani Goosen



Kort verduideliking oor jou rok of ontwerpkeuse
My sprokiesreis beskou ek nie as rooskleurig nie, maar as koningsblou. Daarbenewens is my rok ‘n ware weerspieëling hiervan. ‘n Koningsblou rok vol karakterontwikkeling. Indien jy in jou sprokie die Gouelokkies is wat glo dat “as dit pap reën moet jy skep “, Raponsie is of Sneeuwitjie wat met diere kan praat of selfs die Slapende Skoonheid is wat doom oor Matriek vakansie. ‘n Ware sprokie is koningsblou. Die rede hiervoor is, omdat ware sprokies nie rooskleurig is nie. Dit bestaan uit heldinne wat hand- en-tand veg vir hulle gelukkige einde. Die goeie fee by wie ek my rok gekoop het is The Bridal & Co. My droomrok was ook nie ‘n tipiese “ Pinterest prentjie “ nie, maar ek het geweet ek wou iets sprokiesagtig hê. Die bokant van my rok was opgekikker met skitterende silwer, asook middernagblou blommetjies. Dit simboliseer dat ‘n ware heldin uit die donker slaggate sal blom en haar lig weer helder sal skyn. Die oop rug maak die rok stylvol en elegant. Die sagte net wat oor die rok val beklemtoon die sensitiwiteit van ‘n vrou, terwyl die koningsblou saamsmelt en bewys dat geen hindernis van die lewe haar geesdrif kan knak nie. Die kontras van die fyn blommetjies en donker kleur benadruk die feit dat die manier hoe jy jou struikelblokke aanpak is veel meer werd as die antagonis wat jou sprokie wil vernietig. Dit is legendariese koningsblou werd. Dit is dié koningsblou werd van die 2 blou mane wat in my geboortejaar van 2004 verskyn het. Hierdie is my sprokie. ‘n Sprokie wat nie rooskleurig is nie, maar koningsblou. Fluit-Fluit die storie oor my matriekafskeidrok is uit.