Mieke Dolphin
Hoërskool Framesby
Kort verduideliking oor jou rok of ontwerpkeuse
Ek het nog altyd in my dop gekruip wanneer dit by my melkwit vel kom en het heimlik gewens vir 'n sonbruin vel.
Op die aand van my matriekafskeid het ek vir die heel eerste keer trots gevoel op my velkleur. Ek was ook vir die eerste keer glad nie skaam oor my lelie-wit velkleur nie. Die poublou-skakering van my rok het my sneeuwit gelaat só mooi gekomplimenteer.
Die simplistiese styl van my glansryke balrok het my vroulikheid beklemtoon. Die rokontwerp het my kurwes omhels en die beste kenmerke van my lyf na vore gebring. Die van-die-skouer-af halslyn het elegant gelyk en my moeitelose hoog-op haarstyl het saam gewerk om 'n stylvolle prentjie te skets. Alhoewel ek 'n skoon doek gehad het om mee te werk, het ek besluit om my juweliersware minimalisties te hou, sodat dit nie die aandag van die fokuspunte van die rok sou aftrek nie. Ek wou graag hê dat die middellyf-plootjies die "praatwerk" doen.
Skool se matriekafskeid bygewoon?
Ja, bygewoon op Saterdag, 28 September 2024.
Wat was jou inspirasie vir jou matriekafskeidrok?
'n Geliefde sê-ding van my Oupa is: "Trefkrag lê in eenvoud". Ek wou graag vir hom wys dat sy wyse woorde nie op dowe ore geval het nie. My oupa se gereelde gesegde het as hoof-inspirasie vir matriekafskeidrok gedien en die trefkrag is in die eenvoudige ontwerp van my droomrok vasgevang. 'n Stukkie van my Oupa is dus in my rok verweef en ek kon 'n deeltjie van hom daardie aand saam met my dra.
Wat was jou gunsteling deel van jou matriekafskeidrok?
Alhoewel ek lankal reeds oor my matriekafskeid en my rok se kleur en ontwerp begin droom het, het ek vroeër hierdie jaar aan die bywoning van die groot aand begin twyfel - gedink dat dit dalk nie vir my beskore is nie...
My lewe het vroeër in my matriekjaar in 'n oogwink handomkeer verander toe ek met die lewensgevaarlike kondisie van intussusceptie gediagnoseer is. Ek het gedink dat die operasie wat ek moes ondergaan maar roetine prosedure was. Nooit in my wildste drome het ek gedink dat daar komplikasies sou intree nie. 'n Terugslag na afloop van die eerste operasie het 'n tweede operasie genoodsaak. Na die tweede operasie is ek na ICU oorgeskuif waar ek vir twee weke gelê het. Ek het uiteindelik 'n totaal van 26 dae in die hospitaal deurgebring. Tydens hierdie 26 dae het ek nie geëet nie en ek moes binne-aarse voeding, asook voeding deur 'n pypie in my neus kry. Ek het begin wonder of ek ooit die hospitaal sou verlaat en kon huistoe gaan. My drome en verwagtinge vir my matriekjaar het aan skerwe gelê. Ek het myself midde-in 'n woesste storm bevind en soms het dit vir my gevoel asof ek in 'n pikswart nag vasgevang was en dat dagbreek net nie vir my wou aanbreek nie. Die goeie ding van 'n storm is egter dat dit wel eindig. Deur die krag van gebed van bekendes en onbekendes het ek beter geword. Ek is na amper 'n volle maand in die hospitaal, ontslaan. Alhoewel ek nie my Junie-eksamen kon aflê nie, kon ek tóg my groot aand aan die einde van September bywoon.
Die gunsteling deel van my matriekafskeidrok is verweef in die herrinnering dat die Here my gespaar het. Hy het verseker dat my rokontwerp nie net 'n skets op papier gebly het nie. Hy het dit so bestem dat toe tóg die rok van my drome kon aantrek en aan my lyf kon voel. Ek is oneindig dankbaar dat ek die aand waaroor elke meisiekind maar in haar hoërskoolloopbaan droom, kon bywoon.
My matriekafskeidrok versinnebeeld dus vir my God se Groot Genade. Ons Hemelse Vader het my spesiaal genoeg geag om aan my 'n tweede kans te gee om te kan droom en om te kan leef - en dit doen ek nou in nederigheid en in volslae afhanklikheid van die Groot Geneesheer. Magé Trotskie se woorde som die dag van my matriekafskeid so mooi op: "Lig jou oë van die grond af en wees hier. Die Here sê "stop". Vat 'n oomblik. Kyk op en haal asem. Ek is met jou. Ek het jou lief."
Datum van matriekafskeid?
2024-09-28