Ek dink my rok is die mooiste, elegantste, prinsesrok ooit en pas perfek by my. Die rok is 'n pragtige, unieke turkoois kleur en bestaan uit 'n goue onderlaag wat self 'n turkoois draadjie in het met ‘n deursigtige turkoois kantlap bo-oor. Die boonste deel van die rok is noupassend, wat dan uitvloei in 'n wye onderkant. Die blommetjies en steeltjies wat vasgewerk is op die boonste deel van die rok is onder andere ligte pers, ligte pienk, turkoois, en wit met blou en wit blinkertjies. Die blomme bloei ondertoe en sprei uit soos dit ontvou. Tannie Ilze van der Westhuizen het al my idees en versoeke in ag geneem en dit als bymekaar gesit in ‘n mooier eenheid as wat ek ooit kon droom. Die rok is vrolik en sag en pas by my geaardheid. Ek is mal daaroor dat die rok met eerste oogopslag eenvoudig lyk, maar eintlik so baie detail en karakter bevat. Ek hou van hoe die rok se kleur verander as die son of lig daarop val of wanneer ek beweeg. Ek het werklik soos 'n prinses gevoel in my matriekafkseidrok.
Skool se matriekafskeid bygewoon?
Hoërskool Curro Durbanville
Wat was jou inspirasie vir jou matriekafskeidrok?
Die inspirasie vir my rok was oorspronklik dat dit soos iets uit 'n sprokiesverhaal moet lyk. Ek het ook na baie ander rokke gekyk en gekies waarvan ek hou en watter elemente ek in my rok wil opneem. Ek wou ook gehad het die kleur moet 'n mooi sagte en natuurlike kleur wees, maar een wat nie te eenvoudig of eentonig is nie. Met Tannie Ilze se goeie oog kon ons elke stuk materiaal en blommelap uitkies en die idees só bymekaar sit dat sy met haar talent my droomrok 'n realiteit kon maak.
Wat was jou gunsteling deel van jou matriekafskeidrok?
Dit is so moeilik om my gunsteling deel van die rok te kies omdat ek so baie van elke detail en element daarvan hou, maar my heel gunsteling is die wydheid en die kleur daarvan. Ek het dit so baie geniet om daarin te dans, veral ook om te sien hoe die kleur verander en skitter soos wat ek beweeg in die rok. Ek hou van elke element van my rok: die kleur, hoe lekker dit kan swaai, die neklyn, die vorm, die unieke bandjies, elke blinkertjie en blommetjie wat Tannie Ilse vasgewerk het, en die kleure van die twee lae lap wat so goed saamwerk.