Ek wou van die begin af VROLIKHEID en LEWE uitstraal, daarom het ek geweet dat ek ‘n blou rok wil hê. Ek het met ‘n oop kop in die konsultasie ingestap, want ek het tot op daardie stadium glad nie geweet presies hoe ek wil hê my rok moet lyk nie, behalwe dat ek ‘n oop rug met bandjie-detail wou hê. Ek’t net geweet - sodra ek die rok aanpas, sal ek weet. Ek wou mooi lyk, sonder om te veel lyf te wys, want dit is glad nie wie ek is nie.
Geen rok het onmiddellik uitgestaan nie en ek wou amper begin moedeloos word, maar toe ons die legkaartstukke begin saamsit en die mooi & spesiaal van elke rok bymekaar sit om my eie unieke rok saam te stel het ek geweet – ons het ‘n wenner! Die feit dat die blou rok my oë so mooi gekomplimenteer het, was ‘n totale bonus gewees.
Ek gee toe, die onderkant van my rok was glad nie wat ek aanvanklik gedink het ek ooit vir myself sou kies nie, maar my ma het my omgepraat en vandag is ek glad nie spyt oor my finale keuse nie, want die onderkant van my rok was toevallig ook my Oupa se gunsteling deel van die rok gewees. My Oupa is ongelukkig 6 weke voor my matriekafskeid oorlede en kon my rok net op ‘n foto sien, maar ek het sy teenwoordigheid die hele aand by my gevoel wanneer die rok so rondom my gelewe het.
Skool se matriekafskeid bygewoon?
Ja
Wat was jou inspirasie vir jou matriekafskeidrok?
Blou is vir my sinoniem met water & lewe en ek wou nog altyd ‘n blou matriekafskeidrok gehad het. Ironies is dat ek amper my lewe in 2018 verloor het in ‘n jacuzzi ongeluk. Ek’t daardie dag ‘n ontmoeting met die Here en Sy Engele gehad en ek’t Hom gevra vir nog een kans op aarde, want ek voel ek het nog so baie gehad om te doen en te gee. Hy het my my wens gegee & ek leef van daardie dag af elke dag voluit asof dit my laaste dag op aarde is, want more is vir niemand belowe nie & ek probeer my lewe leef dat Sy teenwoordigheid in my gesien kan word. My rok se blou en vloei in die romp in verteenwoordig vir my Sy Liefde & Lewe wat my opvou en elke dag beskerm en my herinner hoe bevoorreg ek is om Sy Kind te kan wees. My motto waarvolgens ek my lewe lewe is: Saved by Grace (Efesiërs 2:8).
Wat was jou gunsteling deel van jou matriekafskeidrok?
Ek is mal oor my hele rok en elke deeltjie is met ‘n spesifieke rede uitgesoek, maar ek moet erken ek was veral versot op die detail van die bo-lyfie en die fyn bandjies oor my rug.