Lelize van der Walt
Die Hoërskool Menlopark
Kort verduideliking oor jou rok of ontwerpkeuse
'n Feëtjietuin in die vorm van ‘n rok: Die verskeie lae materiaal en net, laat die rok lewendig saam met my beweeg net soos wat die speelse wind deur ‘n blommeveld waai. Fyn geborduurde blommetjies van verskillende groottes en verskillende pastelkleure bedek die toppie gedeelte en versprei af ondertoe oor die romp gedeelte amper asof die wind hulle só laat grond toe val het. Die pers materiaal het ‘n effense ligpienk skynsel, soos ‘n lente sonsondergang. En die subtiele blinkertjies op die een laag net vang elke nou en dan die lig, soos die glinster van feëtjies wat in die mistieke tuin woon.
Volgens my, is die belangrikste voorskrif vir enige matriekafskeidrok dat dit jóú laat voel soos die unieke prinses wat jy is, ongeag wat ander mense daarvan dink. My rok het my soos 'Lelize' laat voel en my wens vir elke meisie is dat hulle matriekafskeidrokke hulle herinner om wie hulle is te koester en lief te wees vir die unieke persoonlikheid en skoonheid wat hulle van God af ontvang het.
Skool se matriekafskeid bygewoon?
Die Hoërskool Menlopark
Wat was jou inspirasie vir jou matriekafskeidrok?
Soos meeste meisies droom ek al vandat ek die woord ‘matriekafskeid’ kon sê, oor hoe my rok eendag sou lyk. Ek het ‘n paar jaar gelede my Pinterest bord amptelik begin en idees begin versamel. Toe die tyd kom dat ons my rok moet laat maak, het ek só baie verskillende kleure en snitte wat vir my mooi was, op die bord gehad…maar ek wou nie net een kies en dan pas dit dalk nie mooi by MY nie. Daarom het ek en my ma besluit om eers ‘n paar rokke te gaan aanpas…net om ‘n idee te kry van min of meer watter kleur en styl mooi sal lyk op my.
Toe ek by die eerste plek instap, sien ek hoe iemand ‘n rok op ‘n reëling hang…die mooiste rok wat ek al in my lewe gesien het! Ek het geweet ek moes dit net aanpas. Ek het ‘n paar ander opsies probeer, maar daardie rok vir laaste gehou. Met die eerste oprits van die rok was daar geen twyfel nie: Dit was my droom matriekafskeidrok in lewende lywe. Toe ek weer my Pinterest bord oopmaak, sien ek toe dat meeste van die verskillende kleure en snitte rokke wat ek 'gepin' het die 3D-blomme idee gehad het, en dat daar selfs 2 rokke was wat amper die presiese blomme en pers materiaal gehad het. Ek het nooit gedink dat mens só ‘n rok in SA sou vind nie. Daardie aand het ek met ‘n vol hart (en ‘n vol kas) gaan slaap.
Wat was jou gunsteling deel van jou matriekafskeidrok?
Die kombinasie van pastelkleure. Nadat al my hoërskool balrokkies pastelkleurig was, het ek gedink ek sal vir my matriekafskeid ‘n helder kleur probeer. Toe ek my rok egter sien, en dat dit die lila pers, perske pienk en suurlemoen geel kleure van my vorige balrokkies gekombineer het, het ek besef dit ís my kleure. Die kleure waarin ek mooi en soos 'ek' voel. Dit was vir my só spesiaal om elke keer wat ek afkyk herinner te word aan die verskillende fases van my hoërskoolloopbaan. My rok het gevoel soos die perfekte afsluiting van my hoërskoolrokkie-verhaal.
Datum van matriekafskeid?
2024-09-20