Carlien Mc Lachlan



Kort verduideliking oor jou rok of ontwerpkeuse
Ek was nie 100% seker hoe my rok moet lyk nie, maar ek wou baie graag ń geel rok gehad het. Nie giggel geel nie (soos my Ouma sou sê). So het my soektog begin. Ek en my ma is na verskeie plekke in Kimberley, Bloemfontein en self Hartenbos, maar niks het vir my uitgestaan nie. En almal het vir my gesê hulle sal nie geel vir my voorstel nie.
So eindig ons op by Salomari Botes en haar PA Oom Frans by Say Yes Bridal in Bloemfontein. En kan julle glo, die eerste vraag wat sy my vra is: 'Het jy al gedink aan ń geel rok?' Ek en my Ma het dadelik vir mekaar gekyk en begin lag!
So bring sy vir my hierdie pragtige geel rok om aan te pas. Die kleur was presies wat ek gesoek het, maar die rok was net nie 'ek' nie.
So het die beplanning en ontwerp van MY DROOMROK begin. Alles in tot in die fynste detail beplan en Oom Frans het elke blommetjie en die kant uitgesny en met die hand op presies die regte plekke vasgewerk. Ek het die ontwerpers behoorlik op hulle tone gehou. Oom Frans het werklik geluister en verstaan wat ek wou hê en my ook gesê wanneer iets nie gaan werk nie.
My rok het verseker my wildste drome oortref. Dit was sag, maar vroulik en so ék. My matriekafskeid was een vir die boeke en ń aand wat ek vir altyd sal onthou. Ek is so dankbaar vir die ontwerpers, my ouers en ons Hemelse Vader wat alles moontlik gemaak het.