Inge van Staden

Eunice High School

Tuisdorp

Bloemfontein

Skool

Eunice High School

Wie het jou matriekafskeidrok ontwerp / waar het jy dit gekoop?

Cindy Bam, bekende mode ontwerper van Kaaptstad, het my rok ontwerp.

Wat was die inspirasie agter jou matriekafskeidrok?

Die inspirasie agter my rok is my ouma en die pragtige strand van Pringlebaai. My ouma was mal oor rose, en ek is mal oor die kleur blou. Kom ek begin by my rok se ontwerp en die inspirasie daaragter. Ek onthou hoe ek as klein dogtertjie sorgeloos oor Pringlebaai se strand gehardloop het, met my pa wat agter my aan probeer hardloop het (ek dink nie hy het toe al besef hoe vinnig ek regtig is nie!...). Ek en Ouma het saam see-anemone gesoek tussen die poele water tussen die rotse. Sy het gereeld vir my die dolfyne gewys wat in die branders baljaar - en ek onthou die sprankel van “liggies” oor die water, veral in die laatmiddagson. O ja, en natuurlik kan die wind behoorlik daar waai! Enigiemand wat al by Pringlebaai vakansie gehou het, sal dit beslis kan beaam. Maar ten spyte van die wind, bly dit vir my een van die mooiste plekke in Suid-Afrika. Die blou van my rok simboliseer die helder, skoon water van Pringlebaai, terwyl my rosekleurige “chiffonjas” ’n spesiale eerbetoon aan Ouma is - ’n herinnering aan haar gunstelingblomme. Die vloeiendheid van die materiaal laat my dink aan die wind, en aan Laurika Rauch se liedjie “Kinders van die wind” . Die kristalle wat spesiaal binne die rose ingewerk is, simboliseer die helder sprankeling van lig op die water van Pringlebaai se see. Ek is regtig mal oor my rok!

Wat beteken jou matriekafskeidrok vir jou?

My matriekafskeidrok is vir my ‘n simboliese viering van herinneringe, liefde en groei. Elke element van my rok vertel ’n storie: die blou kleur herinner my aan die helder water van Pringlebaai, waar ek as kind saam met my ouma en ouers sorgeloos gespeel het. Die rose op my rok is ’n spesiale eerbetoon aan my ouma, wat rose liefgehad het, en die kristalle wat tussenin glinster, simboliseer die sprankelende liggies op die see wat ek altyd met haar sal verbind. Vir my is hierdie rok dus nie net die hoogtepunt van my matriekjaar nie, maar ook ’n manier om my kinderjare, my familie en die mense wat my gevorm het, te eer. Dit is ’n herinnering aan waar ek vandaan kom - en aan die wind, die golwe en die liefde wat my altyd sal dra.

Hoogtepunt van die matriekafskeid

Die hoogtepunt van die matriekafskeid was beslis die besef dat ons dit tot hier gemaak het; en dit ná die rekordeksamen, wat vir ons almal ongelooflik stresvol was. Dit was amper onwerklik om te dink aan die lang pad wat ons meisies saam gestap het: sommige van ons kom nog uit Eunice Primary, andere het by die hoërskool by ons aangesluit. Ons het saam deur ’n baie moeilike tyd gegaan tydens COVID, toe ons in graad 7 en 8 was. Vir my was dit ’n nostalgiese aand van terugkyk en onthou -’n oomblik om te besef hoe ver ons gekom het en dat ons, ten spyte van al die uitdagings, bo uitgekom het. Ek is ongelooflik trots om met Eunice High School geassosieer te word, en om te dink aan al die vriendskappe wat ek hier opgebou het. Die aand van die matriekafskeid was vir my ’n ongelooflike ervaring. Alles was eenvoudig perfek - van die instap by die skool en die hartlike verwelkoming, tot die pragtige funksie by SUT (Sentrale Universiteit van Tegnologie). Dit het selfs ekstra betekenis vir ons as matrieks gehad, omdat dit op dieselfde terrein was waar ons skool eens gestaan het, voordat dit afgebrand het. Alles het net so besonderse en “vol sirkel” oomblik gevoel - asof dit die perfekte afsluiting was van ons skoolloopbaan.

Planne vir na matriek

Ek gaan medies studeer by die Universiteit van Stellenbosch of by die Universiteit van die Vrystaat.

Gunsteling woord in Afrikaans

Skelmkousies

Datum van matriekafskeid

2025-10-04

Like what you see?

Share on Social Media